Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Montjane-hulle val vas in eindstryd

Die Suid-Afrikaanse rolstoel-tennisster Kgothatso Montjane se eerste Wimbledon-eindstryd het nie Saterdag die sprokie opgelewer waarvan sy gedroom het nie – maar haar tweede hap aan die appel wag gelukkig reeds Sondag.

Montjane en haar dubbelsmaat, die Brit Lucy Shuker, is met 6-0, 7-6(0) verslaan deur die tweede gekeurde paar van Yui Kamiji en Jordanne Whiley.

Suid-Afrika se Kgothatso Montjane (voor) en die Brit Lucy Shuker. Foto: Getty Images

Kamiji en Whiley het Montjane-hulle in die eerste stel behoorlik verrinneweer en dit binne net 19 minute gewen. Die oomblik het te groot gelyk vir die SA/Britse duo, wat ’n skamele vier punte in hul eie afslaanpotte kon wen.

Toe Kamiji en Whiley boonop ook in die eerste pot van die tweede stel deurbreek, het ’n mens ’n slagting verwag – maar dít was net die skop onder die jis wat Montjane en Kamiji nodig gehad het.

Hulle het beheer geneem deur al drie die volgende potte te wen, en sigbaar meer selfvertroue en dapperheid gehad.

Dit het bygedra tot ’n ware skouspel van ’n stel. Aan weerskante van die net het die spelers kragtige houe na die agterbaan afgewissel met kort valhoue. Vanselfsprekend is rolstoel-tennis ’n drasties ander affêre as “gewone” tennis, maar die spoed waarteen dié spelers hulle self oor die gras kan kry en hul rolstoele kan omdraai, is ewe indrukwekkend as hul vermoë om die bal met net bolyf-krag te laat sing.

Montjane-hulle was sterk op pad om die tweede stel te wen toe hulle op 5-3 afgeslaan het daarvoor, maar het hul konsentrasie in daardie kritieke stadium laat verslap en die deur weer vir Kamiji-hulle oopgemaak.

Dit was fataal teen ’n duo wat voor gister reeds ’n asemrowende 16 Grand Slam-dubbelskrone gewen het. Hulle het Montjane en Shuker se ruimte ingeperk met ’n paar goed gemikte houe, en teruggeveg om ’n valbylpot te verseker. Daarin het hulle al die reëls gemaak, om uiteindelik op ’n drafstap te wen.

Vir my gaan dit daaroor om op die tennisbaan hoop vir almal in Afrika te gee.
Kgothatso Montjane

Montjane was sigbaar ongelukkig ná die nederlaag, maar het haar glimlag teruggekry toe Whiley se driejarige seuntjie op die baan gehardloop het om die formaliteite van die trofee-oorhandiging mee te maak. Die Suid-Afrikaner het moontlik ook toe onthou dat sy geen rede het om in sak en as te wees nie, met Wimbledon reeds ’n triomf vir haar.

Montjane sal Sondag om 12:00 te staan kom teen Nederland se eerste gekeurde Diede de Groot, in die enkelspel-eindstryd. Sy kon De Groot nog nooit klop nie, in drie vorige kragmetings, maar het nietemin ’n groot sielkundige slag geslaan toe sy en Shuker Vrydag vir De Groot en haar dubbelsmaat, Aniek van Koot, uitgeskakel het.

Die 35-jarige Montjane, wie se linkerbeen as kind geamputeer is weens ’n oorerflike siekte, het in haar eerste jaar by die Universiteit van Venda begin tennis speel, en ondanks jare sonder borgskappe (en soms selfs kos op die tafel) aanhou klou aan haar droom van Grand Slam-tennis.

Vroeër vanjaar het sy haar eerste Slam-eindstryd gehaal, toe sy en Shuker die Australiese Ope-titelstryd gehaal het. En op gras het sy nou selfs beter gevaar, deur in slegs haar derde Wimbledon-toernooi twee taai driestel-halfeindrondes binne net ’n paar uur te wen.

“Vir my gaan dit daaroor om op die tennisbaan hoop vir almal in Afrika te gee,” het Montjane Vrydag aan ITF Tennis gesê.

“Wanneer die jonger generasie iemand sien presteer, inspireer dit hulle om self ’n sport op te neem. Dit is my hoop.

“Ek wil ook hê hulle moet besef dit maak nie saak watter uitdagings jy het nie. Solank jy iets wil hê, kan jy daarby uitkom.”

Meer oor:  Kgothatso Montjane  |  Wimbledon  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.