Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Murray spu vuur oor Fognini se truuks
Andy Murray (links) en Fabio Fognini in ’n woordewisseling betrokke. Foto: Getty Images

Die Britse tennisspeler Andy Murray was erg omgekrap oor Fabio Fognini se optrede in hul wedstryd Dinsdag in die tweede ronde van Sjanghai-meesterstoernooi en het dié Italianer selfs toegesnou dat hy “sy smoel moet hou”.

Fognini was uiteindelik in ’n taai stryd, waarin die humeure opgevlam het, met 7-6(4), 2-6, 7-6(2) baas teen die voormalige nommereen-speler ter wêreld.

Die 32-jarige Murray en Fognini was na aan die einde van die wedstryd by die net in ’n lang woordewisseling gewikkel. Murray het aangevoer die Italianer het ’n geluid gemaak om hom af te sit wanneer hy ’n hou speel.

“Ek het dit nog nooit in my 800 beroepswedstryde ondervind nie,” het Murray agterna gesê.

Ek het nie geweet wie die geluid gemaak het nie. Ek het gekyk in die rigting waarvandaan dit gekom het. Hy het toe vir my gesê ‘hou op na my kyk, vir wat kyk jy na my?
Andy Murray

“Iemand het ’n geluid gemaak. Ek het nie geweet wie die geluid gemaak het nie. Ek het gekyk in die rigting waarvandaan dit gekom het. Hy het toe vir my gesê ‘hou op na my kyk, vir wat kyk jy na my?’.

“Hy het vir my gesê om op te hou kla en ’n sin vir humor te hê.

“Ek wou weet waar die geluid vandaan kom. Dis teen die reëls, dis steurend, jy mag dit nie doen nie.

“Hy sê toe ek moet ’n humorsin oor dit hê, maar op daardie oomblik het nie een van ons gedink dis snaaks nie,” sê Murray.

Hy sê hy was verder omgekrap omdat die skeidsregter aanvanklik niks aan Fognini gesê het nie.

Murray sê hy moes dalk nie in die onderonsie betrokke geraak het nie, maar “ek laat hom nie so met my op die baan praat nie”.

Die driemalige Grand Slam-kampioen het tekens van sy ou self getoon nadat hy in Januarie ’n groot heupoperasie ondergaan het. Daar was heelwat bemoedigende tekens in die wedstryd, wat net langer as drie uur geduur het.

Fognini speel Donderdag in die derde ronde teen Karen Khachanov, die sewende gekeurde van Rusland.

– BBC, Reuters

Meer oor:  Fabio Fognini  |  Andy Murray  |  Skotland  |  Sjanghai  |  Onderonsie  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.