Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Brittanje se Murray steun nuwe tennisreëls

Tennis durf nie stagneer nie en daarom is hy ten gunste van ’n rits nuwe reëls wat beproef gaan word om dié sport ’n groter skouspel te maak.

Andy Murray in die pas afgelope Franse Ope in aksie. Foto: Getty Images

So het die wêreld se voorste speler, Andy Murray, gereageer op planne om in November vanjaar, in ’n toernooi vir die room van die wêreld se o.21-spelers in Milaan, met reëls te eksperimenteer wat die spel baie vinniger sal maak.

Die mees dramatiese reëlverandering wat beproef sal word, is ’n nuwe puntestelsel waarvolgens die eerste speler met vier potte agter sy naam ’n stel sal wen, pleks van die gebruiklike ses. Indien spelers op 3-3 gelyk trek, sal die stel deur ’n valbylpot beslis word.

Indien spelers ’n telling van 40-elk in ’n pot bereik, sal daar ook dadelik ’n valbylpunt gespeel word.

Ander reëlwysigings wat getoets sal word, is ’n streng beperking op mediese behandeling op die baan, geen punte wat oorgespeel word wanneer die bal met ’n afslaan die net raak nie, asook ’n stophorlosie wat die tyd wat tussen punte verloop, meet.

Tennisbase hoop om die spel met dié wysigings aantrekliker vir ’n jonger gehoor te maak.

“Tennis is tans kerngesond, maar dit beteken nie noodwendig dit gaan in die toekoms ook die geval wees nie. Daarom dink ek dis belangrik om nuwe dinge op die proef te stel,” het Murray aan verslaggewers gesê.

“Jy moet tennisbase krediet gee dat hulle bereid is om met nuwe dinge te waag. Tennis is te dikwels al daarvan beskuldig dat dit te tradisioneel en onwillig is om nuwe idees te beproef.”

Volgens Murray is die enigste proefreël waarteen hy gekant is, die een waar die voordeelpunt wegval en ’n valbylpunt die wenner van ’n pot sal bepaal.

“Maak eerder die stelle korter, maar behou die gebruiklike puntestelsel vir potte,” het Murray voorgestel.

Die wêreld se nr. 2-speler, Novak Djokovic, het op die ATP se webwerf gesê hy is ook ten gunste van vernuwing in tennis.

“Alles in die lewe ontwikkel en gaan vooruit, sport ook. Belanghebbendes moet oopkop wees oor dié beplande reëlveranderings,” sê hy.

Die toernooi in Milaan, bekend as die ATP se Next Generation Finals, word van 8 tot 11 November beslis. – Reuters en Sportredaksie

Meer oor:  Andy Murray
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.