Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
‘My houding was swak,’ sê Federer

Roger Federer sê hy was ongelukkig met sy ingesteldheid in sy nederlaag teen die 20-jarige Kanadees Felix Auger-Aliassime in die Halle-toernooi in Duitsland.

Roger Federer sê sy swak ingesteldheid is iets wat hy nie kan aanvaar nie. Foto: Getty Images

Die Switserse maestro het Woensdag in wat bestempel word as een van sy “agterplase” met 6-4, 3-6, 2-6 verloor.

Dit het aanvanklik gelyk asof Federer (39) die jongeling gaan wys wie is baas en hy het die eerste stel in 35 minute beklink.

Sy spelpeil het egter daarna baie verswak. Dit is verstaanbaar wanneer jy soos Federer ná ’n lang afwesigheid terugkeer, maar hy sê wat hy nie kan aanvaar nie, is sy swak houding toe sake begin skeefloop.

“My ingesteldheid was onaanvaarbaar, ek was teleurgesteld in hoe ek op die baan gevoel en hoe sake verloop het,” sê Federer.

“Die feit dat ek nie weer op dreef kon kom nie en die algehele stryd om terug te veg, het my ook ingehaal.

“Ek moes hard werk vir elke punt en deurgaans dinge maak gebeur. Toe ek besef dit gaan nie my dag wees nie, dat daar niks was wat ek daaromtrent kon doen nie, het ek baie negatief begin voel, iets wat heeltemal teen my geaardheid is.

“Ek is nie trots daarop nie, maar terselfdertyd moet ek aanhou leer uit hierdie kragmetings.

“Dit is belangrik dat ek die regte besluite neem in die aanloop tot Wimbledon en vir die res van die seisoen, want ek kan nie daardie tipe derde stel aanvaar nie.

“Die eerste twee stelle, geen probleem, maar kyk, ek reken hierdie dinge gebeur.

“Ek was baie ongelukkig met hoe die derde stel geëindig het. Ek het met tye goed gespeel, maar daar was te veel rukke en stote in my vertoning.”

Dit was Federer se tweede wedstryd vanjaar op gras nadat hy hom vroeër vandeesmaand aan die Franse Ope onttrek het.

Hy sal waarskynlik nou net in die Eastbourne-toernooi kans kry vir nóg slypwerk voordat Wimbledon op 28 Junie begin.

– Sportredaksie, tennishead

Meer oor:  Wimbledon  |  Tennis  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.