Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Nadal en Barty op koers in leë stadion
Spanje se Rafael Nadal onderweg na sy oorwinning Saterdag in die Australiese Ope in Melbourne. Foto: Getty Images

Die Spanjaard Rafael Nadal is steeds op koers om ’n 21ste Grand Slam-tennistitel te verower na hy die Brit Cameron Norrie in drie taai stelle in die Australiese Ope geklop het.

Vir die tuisnasie – nie die skare nie, want weens Covid-19-inperkings was daar Saterdag geen toeskouers in Melbourne nie – was daar ook vreugde, met Ashleigh Barty wat haar stryd om die titel sal voortsit.

Met die staat Victoria wat vir vyf dae aan inperkingsregulasies onderworpe is weens ’n skielike toename in koronavirusinfeksies, het Daniil Medvedev, Stefanos Tsitsipas en Andrey Rublev almal ook sonder enige toeskouers as getuies die laaste 16 van die Slam gehaal.

Oor verdere deelname deur die wêreld se voorste speler en verdedigende kampioen, Novak Djokovic, is daar nog twyfel.

Die Serwiër het die besering opgedoen toe hy Vrydag in ’n taai vyfsteller Taylor Fritz tot oorgawe gedwing het.

Hy mik vir sy negende Aussie Ope-titel, maar is in ’n stryd teen tyd gewikkel om betyds van ’n geskeurde maagspier te herstel om Sondag in die derde ronde teen Kanada se Milos Raonic te speel.

Die Serwiër het die besering opgedoen toe hy Vrydag in ’n taai vyfsteller Taylor Fritz tot oorgawe gedwing het.

Sou Djokovic (33) onttrek, sal die toernooi net een van die “Groot Drie” – Nadal – in sy midde hê, aangesien Roger Federer voor die toernooi weens ’n kniebesering nie aangetree het nie.

Nadal is self nie 100% nie en kla van ’n stywe rug. Sy geswoeg Saterdag teen die linkshandige Norrie sou nie gehelp het nie.

Die Spanjaard was met 7-5, 6-2, 7-5 baas, maar het agterna erken dit was nie maklik nie, veral om in doodse stilte te speel.

“Die gevoel is heel anders, niemand wil dit so hê nie,” het hy gesê met verwysing na die leë Rod Laver-arena.

Die 34-jarige se volgende hekkie is die Italianer Fabio Fognini, wat die tuisnasie se harte gebreek het deur Alex de Minaur in skoon stelle te klop.

Die Australiër Ashleigh Barty is steeds in die wedloop nadat sy Saterdag Rusland se Ekaterina Alexandrova uitgeskakel het. Foto: Getty Images

Barty, die voorste gekeurde vrou, het ook erken dit is “besonder vreemd” om in haar tuisstad agter geslote deure te speel, skaars ’n dag nadat 22 000 toeskouers nog in die stadion was.

Sy het met 6-2, 6-4 korte mette van Rusland se Ekaterina Alexandrova gemaak en tot dusver nog nie ’n stel afgestaan nie. Sou sy uiteindelik die trofee lig, sal sy die eerste Aussie sedert Chris O’Neil in 1978 wees om dit te vermag.

“Dit voel basies soos oefensessies. Die klank as jy die bal tref, is anders. Regtig vreemd,” het Barty oor haar ondervinding voor geen toeskouers gesê.

Dit voel basies soos oefensessies. Die klank as jy die bal tref, is anders. Regtig vreemd.
Ashleigh Barty

Die Australiese Ope, die grootste internasionale sportgeleentheid tot dusver vanjaar, word as ’n toetsbyeenkoms vir die Olimpiese Spele in Tokio beskou. Die Spele is geskeduleer om in Julie vanjaar af te skop.

Vroeër Saterdag het die Italianer Matteo Berrettini die Rus Karen Khachanov in drie lang stelle uitgeskakel.

Sy oorwinning met 7-6(1), 7-6(5), 7-6(5) bring hom nou teen die Griek Tsitsipas te staan, maar ook hy sê die atmosfeer is iets om aan gewoond te raak.

“Ek mis regtig die skare, as ek eerlik moet wees. Om so ’n wonderlike stadion te sien en daar is net leë stoele, is nie ’n lekker gevoel nie. Dis moeilike tye vir almal, so ons moet dit aanvaar. Dis net ’n jammerte.” – Reuters

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Ashleigh Barty  |  Rafael Nadal  |  Melbourne  |  Australie  |  Tennis  |  Inperkings  |  Kampioen  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.