Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Nadal gaan bietjie briek aandraai

Rafael Nadal sal in 2019 sy talent spaarsamig ten toon stel in ’n poging om beserings te vermy en meer ruskans te geniet.

Rafael Nadal Foto: Getty Images

Die 17-malige Grand Slam-kampioen was die grootste deel van 2018 in die voorste plek op die wêreldranglys nadat hy 45 uit 49 wedstryde gewen het. Dit het vyf ATP-titels ingesluit.

Hoewel hy elke keer sy beste op die baan gegee het, het die 32-jarige Spanjaard ook met heelwat beserings gesukkel en kon eindelik net in nege toernooie sy slag wys.

Probleme met sy knie, heup en buik het Nadal vir die meeste van die hardebaan-ontmoetings op die kantlyn gehou. Dit het tot gevolg gehad dat Novak Djokovic eindelik op die ATP-troon gesit het en die Serwiër het die jaar ook in die voorste plek op die wêreldranglys afgesluit.

Nadal moes eindelik toernooie in Brisbane, Acapulco, Indian Wells, Miami, Cincinnati, Beijing, Shanghai, Parys en die ATP-eindrondes uitsit.

Hy het egter nou aangedui dat hy in 2019 ’n nuwe benadering sal neem en aan minder toernooie sal deelneem om meer hersteltyd tussenin te geniet en sodoende hopelik ook die beseringspook weg te hou.

Die Spanjaard het die laaste ruk by sy eie akademie in Mallorca in sy geboorteland geoefen en sal binnekort na Aboe Dhabi vertrek waar hy aan die Mubadala-tenniskampioenskap sal deelneem van 27 tot 29 Desember.

Hy sal 2019 in Brisbane afskop in die eerste week van die nuwe jaar en sal daarna na Sydney vertrek vir die Fast4-toernooi, voordat hy in Melbourne na ’n tweede Australiese Ope-titel sal streef.

Daarna sal hy eers weer aan die einde van Februarie in Acapulco in Mexiko speel ter voorbereiding vir die Indian Wells- en Miami-toernooi, nadat hy dit in 2018 misgeloop het.

Net soos in 2018 sal hy dan sy aandag op die kleibaan-toernooie spits waar hy titels in Monte Carlo, Barcelona, Rome en Parys sal probeer verdedig, terwyl hy ook ’n sege in Madrid sal beoog.

Nadal sal 2019 in Brisbane afskop in die eerste week van die nuwe jaar.

Nadal het in die laaste paar seisoene ook nie veel van ’n blaaskans tussen Roland Garros en Wimbledon gehad nie, maar het sy naam vir geen toernooie tussen dié twee opgegee vir 2019 nie. Hy sal dus nie aan die Fever Tree-kampioenskap by Queen’s Klub in Londen deelneem nie.

Ná Wimbledon wag die Rogers-beker in Montreal, die Cincinnati-meesterstoernooi en die Amerikaanse Ope.

Nadat hy sy slag in New York gewys het, sal hy saam met Roger Federer in September aan die Laverbeker-toernooi, wat as tennis se weergawe van die Ryderbeker beskou word, deelneem.

Die Meesters 1 000-toernooie in Shanghai en Parys is ook op sy skedule en die Spanjaard sal hoop om vir ’n 15de agtereenvolgende keer vir die ATP-jaareindtoernooi te kwalifiseer.

Hy sal sy seisoen afsluit voor sy tuisskare waar hy Spanje sal lei in die Davis-beker se eindronde by Caja Magica. – Tennis World USA

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.