Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafael Nadal kraai wéér koning in Parys

Vir die 11de keer die afgelope 13 jaar was ’n teenstander klei in die hande van Rafael Nadal in die eindstryd van die Franse ope tennistoernooi op Roland Garros in Parys.

Rafael Nadal nadat hy die Sondag weer die Franse Ope-titel in Parys verower het. Foto: Getty Images

Hierdie keer was dit die 24-jarige Oostenryker Dominic Thiem wat voor die Nadal-aanslag moes swig.

Die top-gekeurde Spanjaard het ook die eerste mans-speler geword het wat ’n Grand Slam-toernooi 11 keer kon wen nadat hy die eindstryd in skoon stelle in 2 ure en 42 minute met 6-4, 6-3, 6-2 gewen het.

In 13 jaar en 88 wedstryde op Roland Garros se kleibane het Nadal verstommend nog net twee keer verloor.

“Dit is eintlik siek,” het Thiem kopskuddend voor die eindstryd gesê en toe Sondag ook deel van die Nadal-statistiek geword.

Nadal het ná sy sege erken dit is nie eintlik ’n droom wat waar geword het nie, “want dit is eintlik onmoontlik om te dink dat iemand hierdie toernooi 11 keer kon wen.”

Toe Nadal die 11de keer in sy loopbaan die trofee in sy hande geneem het, het die emosie oor hom gespoel en die trane het gevloei.

Die organiseerders van die Franse Ope bemark van vanjaar af die toernooi net as Roland Garros. Hulle kan dit netsowel die Rafael Nadal-toernooi noem.

Dis byna onmoontlik dat een speler ’n toernooi, en veral ’n Grand Slam, só oorheers soos Nadal.

Die skrikwekkende vir diegene wat hom moet probeer onttroon, is dat hy op 32-jarige ouderdom al hoe meer oorheersend op dié oppervlak raak.

In al die groot kleibaan-toernooie vanjaar was Thiem die enigste speler wat hom kon stuit: in die Madrid Ope.

Thiem is die enigste speler wat Nadal die afgelope drie jaar op klei kon klop en hoewel hy Sondag glad nie sleg gespeel het nie, kon hy net nie byhou met die hotklou Spaanse bul nie.

Vir Thiem was dit sy eerste verskyning in ’n Grand Slam-eindstryd en aan die begin wou die vlinders in sy maag nie in gelid vlieg nie.

Nadal het die eerste ses punte van die wedstryd gewen en op Thiem se eerste afslaanpot deurgebreek.

Vat so! Rafael Nadal slaan ‘n voorhandhou Sondag in Parys. Foto: Getty Images

Thiem het dadelik teruggebreek, maar in die tiende pot van die openingstel het Thiem himself in die voet geskiet deur sy afslaan weer met ’n strooppot in te boet.

Met die ys gebreek en die eerste stel in die sakkie, het Nadal ook vroeg in die tweede stel (2de pot) gebreek en die dosis in die derde pot van die derde herhaal.

Hoe hard hy ook al prober het, kon Thiem homself net nie weer terug in die wedstryd kry nie.

Nadal het erken hy het groot geskrik in die vierde pot van die derde stel toe hy kwaai krampe gekry het in die vingers van sy linkerhand.

“Ek was baie bekommerd en wou toe net so gou as moontlik klaarmaak,” het Nadal gesê.

Nadal het ook in hierdie toernooi die kerf van $100 miljoen aan prysgeld oorskry.

Thiem het ná die eindstryd aan Nadal gesê dit wat hy vermag, moet een van die merkwaardigste sportprestasies van alle tye wees.

Meer oor:  Tennis  |  Roland Garros  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.