Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Nadal oorkom vurige Kyrgios

Jy kan Rafael Nadal van die spoor dwing met slim valhoue, kragtige voorarmhoue en dapperheid – maar sodra jy ’n lang lip en onderarm-toertjies by die resep ingooi, gaan jy jou eie doppie klink.

Rafael Nadal moes met tye harde bene kou teen Nick Kyrgios, maar was uiteindelik te vurig en bestendig vir die Aussie. Foto: Reuters

Nick Kyrgios is Maandag in Melbourne se Rod Laver-arena hieraan herinner, toe sy onvermoë om ’n hoë standaard te handhaaf en die stemme in sy kop stil te hou, hom duur gekos het in die vierde ronde van die Australiese Ope.

Nadal het Kyrgios in ’n aksiebelaaide wedstryd wat drie uur en 38 minute geduur het met 6-3, 3-6, 7-6 (8/6), 7-6 (7/4) verslaan.

Dit sou natuurlik belaglik wees om voor te stel dat dié uitslag net weens Kyrgios se wipplankryery was. Nadal se veggees en die groot aantal skerp pyle in sy koker maak hom altyd ’n harde neut om te kraak, soos inderdaad Maandag ook die geval was.

Maar tog het dit in ’n stadium gelyk asof Kyrgios die Spanjaard oorhoeks genoeg gehad het vir daardie pyle om die teiken te mis. Hy het Nadal van kantlyn tot kantlyn gejaag en wonderlik by die net gespeel, om ná ’n so-so eerste stel in die tweede stel beheer van die wedstryd te neem.

Dít sou voortduur tot diep in die derde stel, toe die Aussie oudergewoonte nie kon help om te slim te probeer wees nie.

Oudergewoonte het Nick Kyrgios gesorg vir drama in sy wedstryd teen Rafael Nadal. Hier kla hy omdat ’n lynregter gelag het ná ’n verkeerde beslissing. Foto: Getty Images

In die agtste pot van die stel het hy Nadal met ’n onderarm-dien probeer onkant vang – net om in elk geval die punt te verloor. Hoewel hy tog die pot gewen het, was dit ’n aanduiding dat sy fokus besig was om weg te skuif van die uitmuntende tennis wat hy tot in daardie stadium opgedis het.

’n Geteem oor ’n laggende lynregter en die gooi van ’n raket het dit daarna bevestig. Ook toe hy op 5-5 in die valbylpot ’n tweede afslaan teen meer as 200 km/h teen die net vas moker.

Dit alles was net olie op Nadal se vuur. Onthou dat dié twee allesbehalwe hand om die blaas is. Die pogings tot kopspeletjies aan die anderkant van die net het Nadal eenvoudig dieper laat delf.

Natuurlik was daar in die vierde stel ’n kinkel in die kabel, soos gewoonlik wanneer Kyrgios betrokke is.

Die verlies van die derde stel het hom oënskynlik laat glo alles is verlore, tot in die tiende pot van die vierde, toe hy amper van nêrens weer homself gelig en ’n afslaanpot waarin Nadal vir die wedstryd gedien het, gesteel het. Van daar af het die duo ’n valbylpot binnegegaan en daarin was hulle deurgaans kop aan kop, maar dié keer kon Kyrgios die Spanjaard nie weer pootjie nie.

Nadal se vermoë om die toutjies op die belangrikste oomblikke te trek het weer, soos soveel keer vantevore, die deurslag gegee.

Wat Kyrgios aanbetref het hy in vanjaar se Australiese Ope aansienlik minder simpel speletjies gespeel as in die verlede, en in die proses tennis van ’n uitstaande gehalte opgelewer. Daar het meer tyd verloop tussen sy oomblikke van waansin, sodat ons meer van Kyrgios die Tennisspeler kon sien. Dit het die wêreld net weer herinner: wanneer dié Aussie eendag leer om die stemme in sy kop heeltemal stil te maak, gaan hy gróót amok maak.

Nadal sal nou in die kwarteindronde te staan kom teen die Oostenryker Dominic Thiem (die vyfde gekeurde).

Meer oor:  Australiese Ope  |  Nick Kyrgios  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.