Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Nadal oorleef rillerstryd van 5 stelle

Aanhouer wen, vra maar die wêreld se voorste tennisspeler, Rafael Nadal.

Rafael Nadal is deur na sy sewende halfeindstryd in New York. Foto: Getty Images

Die verdedigende Amerikaanse Ope-kampioen het Woensdag om 02:04 (Amerikaanse tyd) ’n verwoede aanslag deur die negende gekeurde Dominic Thiem afgeweer om die halfeindronde by Flushing Meadows ’n sewende keer te haal.

Nadal se wentelling was 0-6, 6-4, 7-5, 6-7 (4/7), 7-6 (7/5) in ’n spannende wedstryd wat 4 uur 49 minute geduur het.

Die 32-jarige Spanjaard mik vir sy vierde titel in New York en sy 18de Grand Slam-kroon.

In Dinsdag se ander kwarteindstryd het Juan Martin del Potro die VSA se laaste bietjie hoop in die mansenkelspel verydel toe hy die hemelbesem John Isner met 6-7 (5/7), 6-3, 7-6 (7/4), 6-2 uitgeskakel het.

Die Argentyn was in die wolke ná sy sege, wat hom die tweede agtereenvolgende jaar in die halfeindronde gekry het. Daar sal hy weer getoets word, met Nadal wat op hom wag.

Die vier mans in die oorblywende twee kwarteindrondes is van vier verskillende lande: Serwië (Novak Djokovic), Australië (John Millman), Japan (Kei Nishikori) en Kroasië (Marin Cilic).

* In die vroueloting het die sesmalige kampioen Serena Williams stadig weggespring voordat sy die Tsjeg Karolina Pliskova (agtste) met 6-4, 6-3 getroef het.

Die Amerikaanse superster het haar afslaan vroeg prysgegee, maar teruggestorm deur agt potte op ’n streep te wen om die eerste stel te beklink en ’n voorsprong van 4-0 in die tweede te neem.

“Ek wou net beter speel,” sê Williams oor haar gemoed toe sy met 1-3 agter was in die eerste stel.

“Ek het gedink ‘weet jy, ek kan beter speel’, so dit was die goeie nuus.”

Anastasija Sevastova van Letland vier Dinsdag haar sege teen die verdedigende Amerikaanse Ope-kampioen. Foto: Getty Images

Sy het die kragmeting met 13 kishoue voltooi en pak Anastasija Sevastova (19de) vir ’n plek in die eindstryd nadat die Letlander die verdedigende kampioen, Sloane Stephens, met 6-2, 6-3 geklop het.

Stephens, derde op die wêreldranglys, het in die eerste stel sewe geleenthede verbrou om op Sevastova se afslaan deur te breek.

Stephens en Pliskova se nederlae voltooi die eksodus van die tien topgekeurdes uit die toernooi.

Die loting vir die halfeindronde word Woensdag afgehandel wanneer Carla Suarez Navarro van Spanje kragte meet teen die Amerikaner Madison Keys en Japan se Naomi Osaka teen Lesia Tsurenko van die Oekraïne te staan kom.

– Sportredaksie

Meer oor:  Flushing Meadows  |  Tennis  |  Wta  |  Atp  |  New York  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.