Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
'Nadal sal moeilik gestuit word'

Novak Djokovic het die laaste twee weke goeie spel op klei opgedis, maar die wêreld se voorste manstennisspeler besef hy sal stukke moet verbeter as hy sy tweede Franse Ope-titel wil wen.

Die klei-koning, Rafael Nadal, het hom die afgelope Sondag ’n liederlike loesing toegedien in die eindstryd van die Italiaanse Ope in Rome.

Frustrasie in Rome. Novak Djokovic gee Sondag uiting aan sy emosie in die eindstryd van die Italiaanse Ope teen Rafael Nadal. Foto: Reuters

Djokovic het vroeër vandeesmaand die Madrid Ope gewen sonder om ’n stel af te staan. Hy het daarna epiese tweestryde teen die Argentyne Juan Martin del Potro en Diego Schwartzman in Rome gewen voordat Nadal hom met 6-0, 4-6, 6-1 ’n kleibaan-tennisles geleer het.

Behalwe vir dié nederlaag, lyk dit asof die Serwiër sy beste peil op die regte tyd bereik het vir die toernooi op die Roland Garros-bane in Parys, wat Sondag begin.

Die 32-jarige speler van Belgrado beklemtoon egter dat die Spanjaard die gunsteling is.

Djokovic het ook die name genoem van die 25-jarige Oostenryker Dominic Thiem, nr. 4 op die ranglys, en die Italianer Fabio Fognini (31), die wêreld se nr. 11.

“Nadal is sonder twyfel die gunsteling, en dan volg die res,” sê Djokovic.

“Ek dink dit gaan ’n baie goeie toernooi wees. Dominic Thiem speel ook baie goeie tennis en hy kan enigeen klop, veral op klei.

“Fognini het teen Nadal in Monte Carlo gewys waartoe hy in staat is.” Hy het verwys na die Italianer se oorwinning met 6-4, 6-2 in die halfeindronde van dié toernooi.

“In die beste van vyf stelle – met ’n ruskans tussenin – sal spelers genoeg tyd hê om regtig op hul beste te wees.

“Almal probeer hul beste peil bereik op Roland Garros. Ek sien uit daarna.”

Djokovic het Nadal in Januarie in skoon stelle in die Australiese Ope in Melbourne geklop, maar daarna was hy bra wisselvallig.

Hy is in Indian Wells en Miami vroeg uitgeskakel en het daarna in Monte Carlo in die kwarteindronde verloor.

Kenners het selfs voorspel hy gaan weer ’n insinking beleef soortgelyk aan die een in 2016, kort ná sy eerste Franse Ope-titel.

Die Serwiër het egter sy kritici stilgemaak met goeie vertonings in Madrid en Rome. Hy het veral geskitter in sy sege oor Del Potro, toe hy in die tweede stel twee wedstrydpunte afgeweer het voordat hy in die derde die uitklophou geplant het.

Hy het daarna ’n vasberade Schwarzman tot oorgawe gedwing, maar te kort geskiet teen Nadal.

Djokovic het reeds die buitengewone prestasie behaal om op dieselfde tydstip die titelhouer te wees in al vier Grand Slam-toernooie. Hy het in 2015 Wimbledon en die Amerikaanse Ope gewen, voordat hy die volgende jaar die titels verower het in die Australiese Ope en die Franse Ope.

Daarna het twee moeilike jare gevolg – ’n knaende elmboogbesering, wat uiteindelik ’n operasie tot gevolg gehad het en ’n dramatiese insinking in sy spel.

Hy het egter op skitterende wyse teruggekom om in 2018 Wimbledon en die Amerikaanse Ope te wen, en vanjaar se Australiese Ope.

Djokovic sal vertroue put uit die feit dat hy reeds al vier titels gewen het, maar besef ’n volmaakte vertoning sal nodig wees om ’n tweede titel in Parys te wen. 

– Reuters

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Wta  |  Franse Ope  |  Atp  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.