
Novak Djokovic en Jim Courier in ’n onderhoud ná ’n wedstryd. Foto: Getty Images
Terwyl die voormalige nr. 1-speler Jim Courier ’n beroep op die Australiese publiek gedoen het om te kalmeer oor Novak Djokovic, het Rafael Nadal ook ’n oënskynlike hou teen die Serwiër ingekry.
Djokovic het kort ná die spelers se aankoms in die land vir die Australiese Ope deurgeloop onder kritiek oor sy versoekskrif aan die Victoria-regering en organiseerders van die jaar se eerste Grand Slam-tennistoernooi.
Hy het daarin gevra dat die kwarantynmaatreëls verslap word, insluitende ’n vermindering van die verpligte 14 dae in isolasie en dat spelers na “private huise met tennisbane” geskuif kan word sodat hulle kan oefen.
Dit het kwaai kritiek op sosiale media tot gevolg gehad.
Nadal het intussen – sonder om Djokovic by naam te noem – in ’n onderhoud met ESPN gesê hulle almal probeer maar om mekaar te help, maar loop nie en verkondig dit nie. Die Spanjaard sê nie almal voel hulle moet “adverteer” hoe hulle probeer om ander te help nie.
“Sommige voel hulle moet alles wat hulle probeer doen openbaar maak, terwyl sommige van ons dit privaat doen sonder om dit openbaar te maak of te propageer.”
Courier, deesdae kommentator, het op sy beurt vir Djokovic in die bres getree.
“Novak het uit sy pad gegaan om vir die ander spelers in Australië op te staan,” het die voormalige Amerikaanse speler aan Nine News gesê.
“Hy was ’n leier. Dit het net verkeerd oorgekom aan die publiek en ek hoop dat die Australiese publiek hom nog ’n kans sal gee om homself ten minste te verduidelik.”
Djokovic se lys van versoeke is summier deur Daniel Andrews, premier van Victoria, afgekeur wat gesê het daar sal geen voorkeurbehandeling wees nie. – Sportredaksie