Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafael Nadal spog met nr. 10 in Rome
Nog een op klei! Rafael Nadal vier Sondagaand sy oorwinning oor Novak Djokovic in die eindstryd van die Italiaanse Ope in Rome. Foto: Reuters

Parys, hier kom ek!

Die Spaanse kleibaankoning Rafael Nadal se “opwarming” vir die Franse Ope was suksesvol.

In wat maklik die eindstryd van die Franse Ope kon wees, het Nadal Sondag in die eindstryd van die Italiaanse Ope met 7-5, 1-6, 6-3 oor Novak Djokovic, die wêreld se voorste speler, geseëvier.

Die Spanjaard het so sy rekord tiende kroon in Rome verower.

Die Serwiër het gepoog om sy eerste oorwinning op klei oor die Spanjaard te behaal sedert 2016 se kwarteindronde in Rome.

Djokovic het in die eerste stel min tekens van moegheid getoon. Die Serwiër het Saterdag 4 uur 56 minute op die baan deurgebring nadat hy sy kwarteindstryd teen Stefanos Tsitsipas moes voltooi, asook ’n halfeindstryd teen Lorenzo Sonego. Vrydagaand se stryd teen die Griek is weens reën uitgestel.

Iga Swiatek poseer met die wennerstrofee. Foto: Getty Images

Nadal en Djokovic was Sondag vir die negende keer in Rome slaags. Na ’n ligte insinking in die tweede stel, het Nadal die krane oopgedraai toe dit saak maak en die beslissende punte beklink.

Djokovic was die verdedigende kampioen, maar Nadal het ná 2 uur 49 minute gewys hy is steeds bobaas op klei.

Dié twee het nou elkeen 36 Meesters-1000-titels gewen.

Nadal sal nou met selfvertroue aantree met ’n 14de Franse Ope-kroon in sy visier wanneer die Grand Slam-toernooi op 30 Mei begin.

• In die vroue se eindstryd was dit eenrigtingverkeer met die Pool Iga Swiatek wat Karolina Pliskova met 6-0, 6-0 gestoomroller het.

Pliskova, van Tsjeggië, was die negende gekeurde, en Swiatek die 15de.

Swiatek moes Saterdag twee wedstryde speel nadat haar kwarteindstryd teen Elina Svitolina Vrydagaand weens reën uitgestel is.

Die 19-jarige Pool het die meer ervare Svitolina met 6-2, 7-5, geklop en haar plek in die halfeindronde bespreek.

In dié stryd het sy die 17-jarige Amerikaner Coco Gauff met 7-6(3) 6-3 geklop.

• Intussen het Roger Federer, wat vandeesweek sy terugkeer in die Genevé Ope in Switserland gaan maak, bevestig dat hy ’n inenting teen Covid-19 gekry het.

Dit volg nadat verskeie hoëprofielspelers, onder wie Djokovic, gesê het hulle is onseker of hulle ingeënt wil word.

“Ja, ek is ingeënt. Ek het die Pfizer gekry,” het Federer Sondag aan Switserland se Leman Bleu-televisie gesê.

“Met al my rondreisery is gelukkig dat ek dit kon doen.

“Al woon ek in Switserland, dink ek daar is voordeel daarin. Ek het dit veral vir ander mense gedoen, want ek wil nie iemand aansteek nie, al bly ek versigtig.”

Federer het ook gesê hy is opgewonde oor sy terugkeer, hoewel hy toegegee het dat hierdie somer anders sal wees omdat sy gesin nie saam met hom by die Franse Ope en Wimbledon sal wees nie.

Dit sal sy enigste kleibaan-verskyning voor die Franse Ope wees. – Sportredaksie, Reuters, atptour.com

Meer oor:  Tennis  |  Italiaanse Ope  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.