Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa steur hom nie aan Fed se rekord

Rafael Nadal het Sondag in Parys die alleenhouer van ’n rekord geword, maar sê hy gaan nie obsessief daaroor raak om Roger Federer se wêreldrekord van 20 Grand Slam-titels te ewenaar nie.

Rafael Nadal gaan nou eers ’n bietjie uitspan voordat hy volgende maand sy visier op ’n derde Wimbledon-kroon rig. Foto: Getty Images

Die 33-jarige Spanjaard se triomf in die Franse Ope het meegebring dat hy nou die speler is wat ’n Grand Slam-toernooi al die meeste kere gewen het. Sy 12de kroon by Roland Garros troef Margaret Court se 11 Australiese Ope-titels.

’n Paar uur ná dié prestasie is Nadal ook daarop gewys dat hy slegs twee Grand Slam-krone kort van die 37-jarige Federer se algehele rekord is en dat tyd boonop aan sy kant is.

Nadal wou egter net die oomblik geniet en nie te ver vooruit kyk nie.

“Om eerlik te wees, bekommer ek my nie oor hierdie klas van dinge nie,” het Nadal aan verslaggewers gesê nadat hy die Oostenryker Dominic Thiem in vier stelle geklop het.

“Jy kan nie die heeltyd gefrustreerd wees omdat jou buurman ’n groter huis, TV of tuin as jy het nie. Dis nie hoe ek die lewe beskou nie.”

Was dit nie vir ’n rits beserings wat Nadal deur die loop van sy loopbaan geteister het nie, kon hy dalk al sy neus voor gekry het.

Volgens Nadal het hy in die koers van 15 Grand Slam-toernooie weens beserings misgeloop. Maar die feit dat hy ten spyte van al sy beseringsterugslae nou weer met die wêreld se bestes kon afreken, bied vir hom baie bevrediging.

Nadal sê hy was vroeër vanjaar te negatief weens sy knaende stryd om fiks te bly en dat dit hom van sy energie beroof het.

Hy sê die keerpunt het gekom toe die einste Thiem hom vroeër vanjaar in Barcelona geklop het. “Ek het toe kans gehad om ’n bietjie oor dinge na te dink. Die een opsie was om ’n ruk lank op te hou speel en my lyf heeltemal reg te kry.

“Die ander was om my ingesteldheid dramaties te verander en vir ’n paar weke eenvoudig alles in te sit.”

Sy vertoning Sondag dien as bewys dat hy die regte besluit geneem het.

Nadal het nog voordat die stof van sy oorwinning op die rooi klei van Roland Garros gaan lê het, ook gesê dat hy nie weer in aksie gaan wees voor die Wimbledon-toernooi nie.

Dié Spaanse maestro gaan na Majorka terugkeer om sy batterye te herlaai en glo hy kan volgende maand in Londen ’n sterk aanslag op ’n derde Wimbledon-titel begin.

Nadal is in 2008 en 2010 as die kampioen by die All England Club gekroon, maar het sedertdien gemengde welslae behaal. Hy het wel verlede jaar weer tekens van sy beste grasbaan-peil begin toon toe hy die halfeindronde gehaal het. Novak Djokovic het hom toe in ’n epiese kragmeting geklop.

“Soos almal weet, hou ek daarvan om op gras te speel. Maar almal weet ook dat ek nie meer so baie weke in ’n ry kan speel soos tien jaar terug die geval was nie.

“So ek gaan nie voor Wimbledon speel nie. My ervaring daar is dat jy met die regte voorbereiding en goeie oefensessies sukses kan behaal.”

Nadal het verlede jaar ook nie in grasbaan-opwarmtoernooie gespeel nie en was uiteindelik een punt weg van die Wimbledon-eindstryd.

“Wat my ’n beter wenkans daar gaan gee, is om gesond en fiks te wees, nie om ’n klomp wedstryde vooraf te speel nie,” sê Nadal.

Reuters

Meer oor:  Tennis  |  Franse Ope  |  Roger Federer  |  Rafael Nadal  |  Roland Garros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.