Die tennislegende Martina Navratilova het Sondag om verskoning gevra nadat sy transgender-atlete wat aan vrouesport wou deelneem, as “verneukers” beskryf het.

Martina Navratilova voel sterk oor die kwessie van transgender atlete. Foto: Getty Images
Die wenner van 18 Grand Slam-titels is as “transfobies” uitgekryt vir haar mening dat dit weens ’n fisieke voordeel “malligheid en onregverdig” is dat transgender vroue, wat as mans gebore is, in vrouesport meeding.
Sy is ook as ’n ambassadeur vir ’n Amerikaanse groep gepos wat hom vir die regte van lesbiese, gay, biseksuele en transgender (LGBT) sportlui beywer.
“Ek besef my gebruik van die woord ‘verneuk’ in die besonder het aanstoot in die transgender gemeenskap veroorsaak. Ek is jammer, want ek het vir seker nie bedoel dat alle transgender-atlete in die algemeen verneukers is nie,” sê Navratilova (62), berig BBCSport.
“Ek het die etiket geheg aan ’n veronderstelde voorval, waar iemand op siniese wyse hul geslag verander, dalk tydelik, om ’n mededingende voordeel te verkry.”
Hoewel sy om verskoning vra, sê Navratilova dat die kwessie van transgender atlete in vrouesport ongetwyfeld deurlopend vrae oor mededinging en etiek sal skep. Sy glo egter dat om te poog om die kwessie op te los deur nog afsonderlike kategorieë in enige sport te skep net tot verwarring sal lei.
“Eerstens moet ons almal besef daar is nie ’n volmaakte oplossing waar niemand ooit verontreg of benadeel sal word nie,” sê sy.
“Die doelwit moet wees om beleide te vind wat vrouesport so inklusief en regverdig as prakties moontlik maak.
“Kyk, as almal ingesluit word, sou vrouesport soos ons dit ken, ophou bestaan. Daarom moet enige oordeelkundige beleid uitsluitings bevat. Maar watter uitsluitings? Waar begin jy en waar eindig jy?”
– Sportredaksie