Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
'Court kruip agter Bybel weg’

Die tennislegende Martina Navratilova beskuldig haar eweknie Margaret Court dat sy “agter haar Bybel wegkruip” en kritiseer haar omstrede preek oor transgender-kinders en sportlui as “pateties in elke opsig”.

Martina Navratilova (regs) en haar vrou, Julia Lemigova. Foto: Getty Images

Navratilova, wat vandeesmaand se Australiese Ope sal bywoon waar Tennis Australië (TA) die 50ste herdenking van Court se kalender-Grand Slam sal erken, maar nie vier nie, het op Twitter gereageer op Court se nuutste tirade teenoor gays en transgender-mense.

Court (77), wenner van 24 Grand Slam-enkelspeltitels, het die uitlatings Sondag gemaak in ’n preek by haar Victory Life-kerk in Perth.

“Pateties, in elke opsig, skaam jou Margaret,” sê Navratilova.

“Margaret het nie haar standpunt oor gays verander nie, so sy sal vir seker dit ook nie oor trans-mense verander nie – ongelooflik hoe sterk haar homofobie regtig is.

“Dit is verregaande en so verkeerd. Ons hoef nie die geskiedenis te verander of herskryf as dit by enigiemand se prestasies kom nie, maar ons hoef dit (prestasies) nie te vier nie.

“Margaret Court kruip agter haar Bybel weg soos baie voor haar gedoen het en ook ná haar sal doen. Kom ons hou op om dit op te hef.”

Court het in November aangedring haar prestasie van ’n kalender-Grand Slam in 1970 moet dieselfde vlak van erkenning kry as dié van haar landgenoot Rod Laver.

Laver is verlede jaar by Melbourne Park (waar die Australiese Ope gespeel word) met groot fanfare vereer op die 50ste herdenking van sy kalender-Grand Slam in 1969.

Die omstrede tennislegende Margaret Court. Foto: Getty Images

TA het geworstel oor hoe om Court te vereer met haar teenstand teen selfdegeslaghuwelike wat wyd kritiek ontlok. Maar die beheerliggaam het in ’n ope brief gesê dit is “belangrik om onderskeid te tref” tussen die erkenning van Court se prestasies en om haar as individu te vier.

Navratilova, wat in 1981 uit die kas geklim het, is dekades reeds ’n kampvegter vir LGBT-regte. Sy het egter in Februarie verlede jaar gesê die idee dat transgender-vroue in sport meeding, is “mal” en verneukery”, maar het later haar mening versag nadat sy die dokumentêr The Trans Women Athlete Dispute With Martina Navratilova saam met die BBC verfilm het.

WAT COURT IN HAAR PREEK GESÊ HET

“Jy weet, met LGBT (lesbies, gay, biseksueel en transgender) gaan hulle wens hulle het nooit die T bygevoeg nie, want in veral vrouesport gaan hulle baie probleme ervaar.”

Sy beweer ook kinders so jonk as sewe begin hul geslag verander.

“Dit is so verkeerd op daardie ouderdom, want baie dinge word in hul gedagtes geplant en hulle begin vra: ‘Wat is ek?’

“Selfs LGBT in skole is van die duiwel af, dit is nie van God af nie.”

Sy het haar mening herhaal dat “dit ’n keuse is” om gay te wees, maar sê sy haat nie gay mense nie.

– Sportredaksie

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Martina Navratilova  |  Lgbt  |  Transgender  |  Margaret Court
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.