Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Nederlaag was ‘aaklig’, sê Federer
Roger Federer tydens Donderdag se kragmeting met Novak Djokovic. Foto: Getty Images

Dit was vir die Switserse tennisspeler Roger Federer ’n “aaklige” ervaring om Donderdag in skoon stelle teen Novak Djokovic in die halfeindronde van die Australiese Ope vas te val.

Die 32-jarige Djokovic, ’n Serwiër, het met 7-6(1), 6-4, 6-3 geseëvier en is nou een oorwinning weg van ’n agtste titel in Melbourne.

Djokovic en Federer is natuurlik ou aartsvyande op die wêreld se tennisbane en die twee was toevallig Donderdag die 50ste keer slaags. Die Serwiër spog ná dese met 27 oorwinnings oor die Switser.

Die 38-jarige Federer het op papier ’n gunstige loting gehad, maar hy het teen Djokovic duidelik die letsels gedra van sy wedstryde teen John Millman en Tennys Sandgren – albei kragmetings wat oor vyf stelle beslis is.

Federer het boonop las gehad van lies- en beenbeserings – iets wat sy spel beïnvloed het. Tog voel hy dat hy sy beste gegee het.

“Op die ou end, skat ek, is ek baie bly. Ek moet tevrede wees met wat ek bereik het. Dit was die beste wat ek uit die toernooi kon kry, veral ná die wedstryde teen Millman en Sandgren.

“Om te ervaar wat ek vandag moes, was aaklig. Ek het goed begin en geëindig, maar my spel tussenin was iets om te vergeet. As jy weet jy het net ’n 3%-kans gehad om te wen, moet jy die nederlaag aanvaar,” het Federer gesê.

Ten spyte van alles wat teen Federer getel het, sowel as die feit dat hy sedert 2012 nie vir Djokovic in ’n Grand Slam-toernooi kon klop nie, was dit die Switser wat Donderdag haastig uit die blokke was.

Hy het twee keer op die Serwiër se afslaan deurgebreek en so ampertjies ’n derde keer so gemaak.

Tog het Djokovic, wat toe met 1-4 en 0-40 agter was, vasgeklou in wat geblyk het ’n keerpunt te wees. Die Serwiër het kort daarna sy ritme gevind en teruggeveg.

Een van Federer se prestasies in meer as 20 jaar op die wêreld se tennisbane is dat hy nog nooit nie ’n wedstryd voltooi het nie. Tog erken hy dat hy dit Donderdag oorweeg het, maar dat hy dankbaar is dat hy deurgedruk het.

Djokovic het dit agterna duidelik gemaak dat hy die wêreld se respek vir die Switser het.

“Respek, dit is al wat ek kan sê. Ek het deur my loopbaan die handdoek ingegooi (en wedstryde nie voltooi nie). Ek weet hoe dit voel as jy pyn op die baan ervaar.

“Ek dink dit is ongelooflik dat hy nooit uitgetree (in wedstryde) het nie. Ek het geweldige respek vir hom.

“Uit die aard van die saak was hy beseer. Jy kon dit gesien het in die manier waarop hy beweeg het. Ek het respek vir hom dat hy sy bes probeer het. Dit is ’n jammerte dat hy nie op sy beste was nie,” het Djokovic gesê. – TeamTalk

Meer oor:  Australiese Ope  |  Novak Djokovic  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.