Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Nou weet Federer hoe werk Rafa se kop

Saam spog hulle met 35 Grand Slam-titels en het hulle vanjaar skoonskip gemaak in tennis se vier groot toernooie. Geen wonder dus nie dat die hele tenniswêreld se oë Saterdagaand op ’n geskiedkundige wedstryd in Praag gevestig was.

Roger Federer en Rafael Nadal het in die splinternuwe Laverbeker-toernooi – tussen Europa en ’n Wêreldspan – die eerste keer in hul roemryke loopbane kragte saamgespan.

Vyande word vennote. Roger Federer (links) en Rafael Nadal het Saterdagaand ’n tennis-droomspan gevorm in die Laverbeker-toernooi in Praag.Foto: Getty Images

Die Switsers meester en Spaanse stiervegter het nie teleurgestel in hul dubbelspel-wedstryd teen die Amerikaners Sam Querrey en Jack Sock nie en het dié kragmeting in ’n valbylstel met 10-5 beklink.

Federer-hulle het die eerste stel met 6-4 gewen, waarna die Amerikaners teruggeveg het om die tweede stel 6-1 in te palm. In dié toernooi word ’n beslissende stel in ’n valbyl-formaat gespeel en wen die span wat eerste 10 punte insamel.

Maar hoe het dit vir Federer gevoel om die eerste keer in sy lewe sáám met sy nemesis, Nadal, te speel?

“Ons sal solank as wat ons nog aktiewe spelers is groot mededingers bly. Sodra dié toernooi verby is, is ons weer ‘vyande’,” het Federer gesê.

“Maar hierdie wedstryd was werklik spesiaal. Dit was baie interessant om te sien hoe sy denkproses werk, sy besluitneming dop te hou en te weet dat jy in die groot oomblikke ten volle op hom kan staatmaak,” het Federer, die wenner van 19 Grand Slam-toernooie, sy ervaring in Praag verwoord.

“Dit was beslis iets anders as wat ek al ooit in my loopbaan ervaar het,” het hy bygevoeg.

Aan die begin van die wedstryd was dit duidelik dat Federer en Nadal nog nooit saamgespeel het nie en het hulle hier en daar byna op mekaar se tone getrap.

“Ons het amper te veel energie aan die begin gehad en het vir alles gegaan,” het Nadal die eerste paar potte opgesom.

Hoewel daar vooraf kommer was dat dié toernooi eensydig sou wees, gegewe die gehalte van die Europese span, moes die meerderheid van die wedstryde op die eerste twee dae met valbyl-stelle beslis word.

Die Laverbeker, wat vernoem is na die legendariese Australiër Rod Laver, is die geesteskind van Federer en sy sportbestuursmaatskappy, Team8.

Hoewel die tenniskalender reeds oorvol is, blyk dit dat dié toernooi ’n sukses is en nog baie gewild kan raak in die toekoms.

Volgende jaar sal dit in die VSA aangebied word. Die toernooi loop Sondagaand ten einde.

– Reuters

Meer oor:  Roger Federer  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.