Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak boos en broeiend, maar bobaas

Die afgelope twee jaar het niks Novak Djokovic meer teruggehou as die lang lip wat hy trek wanneer sake teen hom verloop nie. Toe die dikbek en blitsende oë dus Woensdag ná sy tweede stel teen Kei Nishikori weer uitkom, het die tenniswêreld dit met ’n dreigende gevoel van onheil aanskou.

Dié keer het dit Djokovic egter nie gepootjie nie.

Novak Djokovic is vir die eerste keer sedert 2015 deur na Wimbledon se halfeindronde. Foto: AP

Die Serwiër is die eerste keer in drie jaar terug in die Wimbledon-halfeindronde, nadat hy Nishikori Woensdag op die hoofbaan met 6-3, 3-6, 6-2, 6-2 geklop het.

Nadat hy vroeër in die toernooi geskimp het dat dit hoog tyd is om hom terug op die hoofbaan te sit, het die organiseerders hom sy sin gegee. Jy sou dink ’n terugkeer na die gelukkige stuk aarde – die gras waarop hy drie Wimbledon-titels gewen het, onthou – sou Djokovic rustig maak. Maar dit het nie. Hy was buierig. Hy het twee keer met die skeidsregter baklei. Hy het knaend met flitsende oë na sy afrigters opgekyk. Hy het sy raket vroeg in die tweede stel woedend neergegooi.

Uiteindelik was dit egter nie die broeiende vulkaan binne hom wat Djokovic tot dié sege aangevuur het nie. Dit was sy besluit om nie meer soveel geweld agter sy afslaan te plaas nie. Onmiddellik was sy akkuraatheid beter – hy het in die derde stel net een punt daarop verloor – en het Nishikori vrae begin vra wat die Japanner nie kon antwoord nie.

Wat sy buierigheid op die baan betref, het sowel Andy Murray – wat tans beseer is en Woensdag ’n BBC-kommentator was – en die altyd vurige John McEnroe vir hom in die bresse getree.

“Die irritasie met die skeidsregter, met die skare – dit help hom, dit spoor hom aan,” het Murray volgens The Guardian gesê.

Djokovic self het ná sy sege gesê dit was nodig vir sy fokus.

“Soms spoor dit jou aan, so . . . Soms is dit wat jy nodig het om meer bewus te wees van wat aangaan op die baan,” het hy gesê.

Djokovic se volgende teenstander is die wenner van die kwarteindstryd tussen Juan Martin del Potro en Rafael Nadal. Hul kragmeting het kort voor druktyd ’n vyfde stel binnegegaan.

Meer oor:  Kei Nishikori  |  Wimbledon  |  Novak Djokovic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.