Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak Djokovic ‘het deur rooi lig gery’

Die tennis-ekwivalent van om deur ’n rooi verkeerslig te ry.

Dis die kleurvolle vergelyking wat die Serwiër Bogdan Obradovic, ’n voormalige Davisbeker-kaptein van Novak Djokovic, Maandag teenoor Reuters oor sy landgenoot se faux pas op die Amerikaanse Ope getref het.

Alles verlore . . . Novak Djokovic lyk verskrik nadat hy Sondagaand meegedeel is sy Amerikaanse Ope is iets van die verlede. Foto: AP

Vir die eerste keer in vier jaar sal ’n Grand Slam-manstitel nie deur Nadal, Federer of Djokovic gewen word nie, nadat Djokovic Sondagaand uit die Amerikaanse Ope gediskwalifiseer is.

Djokovic, die enigste van die Groot Drie wat bereid was om in New York te speel, het swaar geleef in die eerste stel van sy vierderonde-stryd teen die Spanjaard Pablo Carreno Busta.

Hy het hom stewig op die agtervoet bevind toe hy sy eie afslaanpot verloor het om met 5-6 agter te loop.

Vererg het hy ’n bal na die agterkant van die baan geslaan – tot teen die keel van ’n vroue-lynregter.

Sy het onmiddellik inmekaar gesak, gesnak na haar asem en hoorbaar geskree. Djokovic was in ’n oogwink by haar om seker te maak sy staan weer op – maar die skade was gedoen.

Die Amerikaanse Tennisvereniging (USTA) het later in ’n verklaring gesê die skeidsregter het besluit om Djokovic te diskwalifiseer omdat hy “ ’n bal opsetlik gevaarlik of roekeloos binne die baan geslaan het, of nalatig was en die gevolge van sy aksies gering geskat het”.

Altesaam 12 minute van smeek en verduidelik het Djokovic nie gered nie.

“Hy het deur ’n rooi lig gery,” het Obradovic, die afrigter van die Serwiese span wat die Davisbeker in 2010 gewen het, gesê.

Hy het homself deur die modder gesleep met ’n simpel fout in ongelukkige omstandighede.

“Ek voel jammer vir hom, want sy peil was goed en hy was op koers om sy 18de Grand Slam-titel te wen. Maar die reëls rakende die verkeerde gebruik van rakette en balle is duidelik en geld vir almal.

“Hy het homself deur die modder gesleep met ’n simpel fout in ongelukkige omstandighede. Ons is almal menslik en blaas soms stoom af, maar daar is geen verskoning daarvoor om iemand anders in gevaar te stel nie – al het hy dit nie bedoel nie.

“Die belangrikste ding is dat die vrou oukei is. Maar mense wat sê dit was nie so erg nie, moet regtig probeer om hulself in haar skoene te plaas.”

Die Duitser Boris Becker, wat Djokovic vir baie jare afgerig het, het ook in sy reaksie op Eurosport verwys na die manier waarop die Serwiër sy frustrasies soms die oorhand laat kry.

“Gelukkig was daar nie toeskouers (in die stadion) nie, maar hy het ’n gewoonte om die bal soms in die paviljoen in te slaan. Sy frustrasies kook oor,” het Becker gesê.

“Die bal is teen die lynregter se keel vasgeslaan, sy het agteroor geval en gesnak na haar asem. Daar was nie enige bybedoeling nie, hy wou haar nie raak slaan nie, maar hy het daardie bal geslaan en dis die reëls. Dis hard.

“Ek is ewe geskok net soos almal. (Ek en Novak) gaan jare terug. Ons noem mekaar familie. Dit is waarskynlik die moeilikste oomblik in sy hele loopbaan.

“Maar hy het ’n reël gebreek – die besluit (om hom te diskwalifiseer) was korrek.”

Dít is ’n mening wat wyd en syd gedeel word.

Die legende Martina Navratilova het getwiet Djokovic se aksie was “onbedoeld, maar dwaas” en bygevoeg die beamptes het geen ander keuse gehad as om hom te diskwalifiseer nie.

Billie Jean King se mening was “die reël is die reël”.

Die hele situasie laat my regtig hartseer en leeg.

Die Sweed Mats Wilander het gesê ondanks die feit dat dit ’n ongeluk was, het hy iets gedoen “wat jy nie mag doen nie”.

Djokovic het nie die media ná die voorval te woord gestaan nie, maar op Instagram sy berou daaroor uitgespreek.

“Die hele situasie laat my regtig hartseer en leeg. Ek het uitgevind hoe dit met die lynregter gaan . . . dank die Here sy voel oukei. Ek is ontsettend jammer om sulke stres te veroorsaak. So onbedoeld. So verkeerd,” skryf hy.

“Wat die diskwalifikasie betref, sal ek diep na binne moet kyk en werk aan my teleurstelling. (Ek moet) uit hierdie les leer om te groei en te ontwikkel as ’n speler en ’n mens.”

Dat Sondag se voorval een is wat Djokovic nog lank gaan ry, ly geen twyfel nie.

Die 33-jarige Serwiër was die afgelope ses maande knaend om die verkeerde redes in die nuus, met veral sy besluit om die Adria-reeks sonder koronavirus-maatreëls aan te bied, sy bedanking vandeesmaand as president van die ATP-reeks se spelersraad en daaropvolgende uitspraak dat ’n wegbreek-reeks oorweeg moet word, wat met argwaan begroet is.

Die lynregter wat Djokovic Sondag op die keel getref het, snak na asem terwyl die Serwiër besorg oor haar buk. Foto: AP

Die gebeure Sondag op Flushing Meadows sou ’n verdere duik in sy gewildheid onder die breër tennispubliek geslaan het.

Maar die groter kwessie is dat hierdie voorval Djokovic vir ewig sal ry – veral as hy nie sy loopbaan as manstennis se gulsigste Grand Slam-wenner afsluit nie.

Die Serwiër het vyf van die laaste sewe Slam-toernooie gewen en Sondag die eerste keer vanjaar nie as oorwinnaar van die tennisbaan gestap nie.

Hy het ’n gulde geleentheid gehad om in New York ’n 18de grote te wen, wat hom net een agter Rafael Nadal se totaal van 19 en Roger Federer se rekord van 20 sou plaas.

Sy vernederende vertrek by Flushing Meadows is nie ’n doodskoot vir die Serwiër se rekord-ambisie nie, met Federer en Nadal nader aan die einde van hul loopbane as hy.

Net die tyd sal leer of hy die New York-episode sielkundig met dieselfde hardnekkigheid kan oorkom wat hy in sy laaste dekade as tennisspeler getoon het.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Vsa-Ope  |  Skorsing  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.