Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak in halfeind ná Kei se lyf ingee

Novak Djokovic is lankal verby die stadium in sy loopbaan waar hy hulp van die geluksgodin nodig het – maar Woensdag in Melbourne het hy dit nietemin gekry.

Novak Djokovic se kwarteindstryd teen Kei Nishikori het Woensdag net 52 minute geduur. Foto: AP

Dié 31-jarige Serwiër se aanslag op ’n sewende Australiese Ope-kroon is stewig op koers nadat sy kwarteindstryd teen die Japanner Kei Nishikori net 52 minute geduur het.

Djokovic was met 6-1, 4-1 voor teen Nishikori toe die Japanner besluit het om die handdoek in te gooi. Met drie van sy eerste vier wedstryde van die toernooi wat vyf stelle geduur het – en die laaste daarvan meer as vyf ure – het Nishikori met ’n dolleë petroltenk vir die kwarteindstryd opgedaag, en uiteindelik die knie voor sy pyne en skete gebuig.

’n Teleurgestelde Nishikori verlaat die baan nadat hy die handdoek ingegooi het. Foto: Reuters

Hoedanig hy gesukkel het, word onderstreep deur die 28 ongedwonge foute wat hy in die 52 minute opgestapel het. Dis meer as twee per minuut en spreek van ’n speler ver van sy beste.

Djokovic het die wedstryd afgesluit met 14 wenhoue en twee kishoue, maar hy het nooit nodig gehad om oor te skakel na tweede rat nie. Sy wenhoue was merendeels danksy Nishikori se gebrek aan beweeglikheid.

“Dis jammer (die wedstryd het nie langer aangehou nie),” het Djokovic ná die stryd gesê. “Ek is mal oor ’n geveg, veral teen Kei, teen wie ek al ’n paar keer hier gespeel het. Hopelik kry ek dit nou in die halfeindronde (teen die Fransman Lucas Pouille).”

Djokovic het nietemin nie gekla oor die kort duur van sy kwarteindstryd nie, met sy fisieke kragmeting teen Daniil Medvedev in die vierde ronde wat heelwat uit hom geneem het.

Hy sal nou relatief uitgerus aantree vir Vrydag se halfeindstryd teen Pouille, wat voor vanjaar nog nooit ’n wedstryd in die Australiese Ope gewen het nie.

Woensdag het die 28ste gekeurde van ’n stadige begin teen die Kanadees met die kanon-afslaan, Milos Raonic, herstel om met 7-6 (7/4), 6-3, 6-7 (2/7), 6-4 te seëvier.

Raonic het danksy sy yslike afslaan aanvanklik die kitaar geslaan om in ’n oogwink met 5-2 in die eerste stel voor te loop, maar Pouille het oor die volgende drie potte slegs drie punte verloor om sake gelyk te maak.

Toe hy die valbylpot daarna wen, het Raonic begin onseker lyk. Die 24-jarige Fransman het dit uitgebuit en elk van Raonic se vrae met oorgawe beantwoord.

Lucas Pouille wag volgende op Djokovic, ná hy Woensdag met Milos Raonic afgereken het. Foto: AP

Die Kanadees het 25 kishoue afgeblits, maar nie wonderlik gevaar op sy tweede afslaan nie – iets wat reg in Pouille se hande gespeel het.

Hy het ook sy eie afslaan uitstekend verdedig. Raonic het net een kans gehad om deur te breek.

“Ek is regtig gelukkig,” het Pouille gesê. “Ek het geweet dit gaan ’n taai wedstryd wees, maar ek het goeie terughoue gespeel en my afslaan vir byna die hele wedstryd behou. Ek het nie te veel druk op myself geplaas nie en net die oomblik geniet.”

* Rafael Nadal, tweede gekeur, kom Donderdag in die eerste halfeindstryd teen die jong Griekse leeutemmer Stefanos Tsitsipas te staan.

Dié 20-jarige het onderweg na die halfeindronde onder andere met die verdedigende kampioen, Roger Federer, afgereken.

Nadal het sy twee vorige kragmetings met Tsitsipas (verlede jaar in Kanada en Spanje) albei gewen.

Meer oor:  Australiese Ope  |  Novak Djokovic  |  Lucas Pouille  |  Aussie Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.