Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak put inspirasie uit 2019

Novak Djokovic was die afgelope 15 jaar in talle epiese Grand Slam-eindstryde betrokke, maar beskou sy vertoning teen Rafa Nadal in verlede jaar se Australiese Ope as die beste van sy loopbaan en hoop om vanjaar inspirasie daaruit te put.

Só het die wêreld se nr. 2-speler aan die vooraand van vanjaar se Aussie Ope, wat Maandag in Melbourne begin, aan die ATP se webwerf gesê.

Rafa Nadal (regs) skud blad met Novak Djokovic nadat die Serwiër hom verlede jaar ’n tennisles in die eindstryd van die Australiese Ope geleer het. Foto: Getty Images

Nadal (Spanje) en Djokovic (Serwië) is onderskeidelik eerste en tweede gekeur vir die jaar se eerste Grand Slam-toernooi en daar is ’n wesenlike kans dat hulle wéér in die eindstryd kan ontmoet.

Djokovic verdedig sy titel vanjaar nadat hy Nadal in 2019 met 6-3, 6-2, 6-3 in die eindstryd afgeransel het.

“Dit was seker die beste vertoning wat ek al in die eindstryd van ’n Grand Slam gelewer het,” sê Djokovic.

Maar wat my vertoning en die gehalte van die tennis betref, was verlede jaar se eindstryd (in die Australiese Ope) waarskynlik my beste een.
Novak Djokovic

“Ek het al spannende en opwindende wedstryde gehad. Die twee mees epiese kragmetings was seker 2012 se eindstryd hier (in Melbourne) teen Rafa, wat amper ses uur lank geduur en die langste eindstryd in die geskiedenis was. En dan teen Roger (Federer) in Wimbledon se eindstryd verlede jaar, wat uiteraard ook ’n vyfstel-riller was.

“Maar wat my vertoning en die gehalte van die tennis betref, was verlede jaar se eindstryd (in die Australiese Ope) waarskynlik my beste een.

“Rafa was uitstekend op dreef. Hy het op pad eindstryd toe nie ’n enkele stel verloor nie en sy spel was net ongelooflik. Dis ’n vertoning waarop ek baie trots is. Ek het dié week probeer om daardie herinneringe te herleef. Dit was een van daardie dae waar alles net perfek vir my gewerk en ek my heel beste spel gelewer het.”

Die 32-jarige Djokovic het met daardie sege sy sewende Australiese kroon verower.

Hoewel hy en Nadal (33) in 2019 al vier die Grand Slam-titels verower het, glo hy daar is ’n paar Jong Turke wat vanjaar die ouer garde kan uitdaag.

Novak Djokovic Vrydag in Melbourne hard aan die oefen vir vanjaar se Australiese Ope. Foto: Getty Images

“Daniil (Medvedev) speel tans ongelooflike tennis. Hy het in ’n baie gelykop vyfstel-eindstryd teen Nadal verloor in verlede jaar se Amerikaanse Ope. Dit was indrukwekkend om te sien hoe hy in daardie wedstryd bly terugveg het en vir vyf ure lank mededingend gebly het.

“Dís alles die tipe goed wat daarop dui dat hy oor die vermoë beskik om ’n kampioen te wees.

“Hy is beslis deel van ’n klein groep spelers wat besig is om al nader aan ’n Grand Slam-titel te kom.”

Djokovic het die Oostenryker Dominic Thiem en die Griek Stefanos Tsitsipas ook as gevaarmanne uitgelig.

“Ons beskik oor ’n goeie nuwe geslag spelers. (Alexander) Zverev is natuurlik ook al ’n ruk op die toneel. Dis onafwendbaar dat hulle Grand Slams gaan begin wen. Wanneer dit gebeur, sal dit fantasties vir die sport wees.” – atptour.com; Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  2019  |  Grand Slam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.