Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak, Rafa en Roger saam geloot in Parys

Rafael Nadal, Novak Djokovic en Roger Federer, die drie suksesvolste mans in die geskiedenis van Grand Slam-tennis, bevind hulle almal in dieselfde helfte van die loting by Roland Garros.

Rafael Nadal het verlede jaar met Novak Djokovic in die eindstryd op Roland Garros afgereken. Foto: Getty Images

Met dié dat Nadal na die derde plek op die wêreldranglys afgeskuif het, sou dit altyd waarskynlik wees dat die wenner van 13 Franse Ope-titels en Djokovic, die wêreldnommereen, mekaar voor die eindstryd sou pak.

Die Spanjaard en die Serwiër kan vanjaar in die halfeindronde teen mekaar te staan kom.

Djokovic, die wenner in 2016, is eerste gekeur en kan moontlik in die kwarteindronde met Federer kragte meet.

Nadal, met ’n wenrekord van 100 oorwinnings en slegs twee nederlae in die toernooi, begin sy aanslag teen Alexei Popyrin van Australië, 62ste op die wêreldranglys.

Sy waarskynlikste teenstander in die kwarteindronde is die Rus Andrey Rublev, wat hom verlede maand by die Monte Carlo-meesterstoernooi geklop het.

Djokovic pak Tennys Sandgren van die VSA in die eerste ronde en Federer begin sy veldtog teen ’n kwalifiseerder, wat nog bepaal moet word.

Sy mede-veteraan, Marin Cilic, ’n voormalige Amerikaanse Ope-kampioen, is ’n moontlike teenstander in die tweede ronde.

Rusland se tweede gekeurde Daniil Medvedev, wat al vier sy vorige wedstryde by Roland Garros verloor het, begin sy veldtog teen Alexander Bublik van Kazachstan.

Suid-Afrika se Lloyd Harris het ’n moeilike uitdaging in die eerste ronde teen die Italianer Lorenzo Sonego (26ste). As alles volgens plan verloop, kan hy Nadal in die derde ronde ontmoet.

Kevin Anderson, Suid-Afrika se ander deelnemer in die enkelspel, begin sy veldtog teen Kwon Soon-woo van Suid-Korea. Anderson en Kwon is onderskeidelik 97ste en 90ste op die ranglys.

Suid-Afrika se dubbelspel-ster Raven Klaasen en sy Japannese spanmaat, Ben McLachlan, moet tot Sondag wag vir hul loting.

• In die vroue-loting kom die wêreldnommereen, Ashleigh Barty, die kampioen in 2019, eerste teen Bernarda Pera van die VSA te staan.

Naomi Osaka (2de), wat nog nooit verby die vierde ronde in Parys kon vorder nie, begin teen die Roemeen Patricia Maria Tig.

Serena Williams, steeds op soek na haar 24ste Grand Slam-titel (om Margaret Court se rekord te ewenaar), pak Irina-Camelia Begu van Roemenië.

Die verdedigende kampioen, Iga Swiatek, speel teen haar goeie vriendin Kaja Juvan van Slowenië in haar openingswedstryd.

Barty en Swiatek kan mekaar in halfeindronde die stryd aansê.

• Djokovic sê intussen dit kan “baie onaangenaam” wees om die media te woord te staan, maar dit is deel van tennis.

Die Japannese ster Osaka het vandeesweek gesê sy sal weens kommer oor die impak van nuuskonferensies op haar geestesgesondheid nie by die Franse Ope met die media gesels nie.

Djokovic sê hy verstaan haar besluit, veral wanneer ’n mens vrae moet beantwoord ná ’n nederlaag, maar meen nuuskonferensies is deel van alle spelers se verantwoordelikheid.

“Goed, sy het waarskynlik haar redes,” sê hy.

“Nuuskonferensies kan soms baie onaangenaam wees en dit is nie iets wat jy altyd geniet nie, maar dit is deel van die sport en deel van jou lewe. Dit is iets wat jy moet doen, anders word jy beboet.”

Die Franse Ope begin Sondag. – Reuters

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Franse Ope  |  Roger Federer  |  Rafael Nadal  |  Roland Garros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.