Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak reg vir ‘stryd soos geen ander’

Agt maande gelede het Novak Djokovic stert in die lug vir die Franse Ope-eindstryd aangetree. Vir twee weke lank het hy elke teenstander se tjank met ’n kombinasie van meesterlike valhoue en voorarm-missiele afgetrap en boonop ook kans gekry om sy veggees uit te stal in ’n halfeindstryd oor vyf stelle.

Rafael Nadal het die Franse Ope gewen elke keer wat hy verby die kwarteindronde gevorder het. Kan Novak Djokovic dit Vrydag verander? Foto: AP

Aan die einde van daardie Sondag by Roland Garros was Djokovic egter stert tussen die bene nadat hy met 6-0, 6-2, 7-5 deur Rafael Nadal verneder is. Die Spanjaard het die Musketierstrofee vir die 13de keer bo sy kop gelig nadat hy Djokovic soos ’n blote klubspeler laat lyk het.

In die maande sedertdien het die Serwiër nooit letsels van daardie drag slae gewys nie en sy eie Grand Slam-totaal gestu tot 18 deur die Australiese Ope te wen. Maar natuurlik was hy nog nie weer in ’n situasie waar hy herinner is aan hoe Nadal hom verlede Oktober verrinneweer het nie – tot nou.

Die onverstaanbare besluit om Nadal net derde op die keurlys te plaas in sy gunsteling-toernooi, het die bisarre scenario laat ontvou waar tennis se twee beste spelers Vrydag vir ’n verandering nie om die kroon sal meeding nie, maar vir die reg om in die eindstryd te speel. Die moedswilliges onder ons sal natuurlik sê dit is eintlik die toernooi se nie-amptelike eindstryd, met nie een van die spelers in die ander halfeind (Alexander Zverev en Stefanos Tsitsipas) wat al ’n Grand Slam-titel kon wen nie. Wat jy dié wedstryd ook al wil noem, bly dit ’n wedstryd wat nie een van die twee tennis-Goliats wil verloor nie. Die vraag is net of Djokovic dit sal regkry om die gebeure van Oktober 2020 diep genoeg weg te bêre om die bordjies te verhang.

Die gemak waarmee Nadal hom daardie dag omgedop het, was heeltemal onverwags. In die vroeë Europese winter het die bal byvoorbeeld nie so hoog op die rooi klei gehop soos Nadal verkies nie. Die klei was dikker en die baan stadiger. En tog was die Spanjaard beter as ooit.

Novak Djokovic weet hoe dit voel om op Roland Garros deur Rafael Nadal verneder te word én hoe om hom daar ore aan te sit. Foto: Reuters

Nou vind die Franse Ope weer plaas in omstandighede waarin Nadal al vir meer as ’n anderhalwe dekade gedy. Sy dikwels gekrokte lyf gedra homself en sy vermoë om teenspoed te oorkom, is so goed as ooit.

Neem byvoorbeeld sy kwarteindronde Woensdag teen die buksie-Argentyn Diego Schwartzman. Nadal is behoorlik opdraande gegee deur die Suid-Amerikaner en het selfs sy eerste stel in 37 by Roland Garros verloor.

Maar dit het die Spanjaard bloot gedwing om dieper in sy arsenaal te gaan krap en Schwartzman met sy grofgeskut weg te bêre.

Hy sal dus Vrydag uitstap met die wete dat hy ’n antwoord het vir enigiets wat op Roland Garros na hom gegooi kan word – en spesifiek ook deur Djokovic.

Dit is so dat die Serwiër een van net twee mans is wat al ooit in die Franse Ope met Nadal kon afreken. Maar dis nou reeds ses jaar sedert daardie dag en die Spanjaard was destyds midde-in een van sy vele beseringskrisisse.

Vir die laaste keer wat Djokovic Nadal op enige klei-oppervlak kon klop, moet jy die almanak ook vyf jaar terugblaai, na die Italiaanse Ope van 2016.

Op alle oppervlakke is hy (net-net) Nadal se meerdere, met 29 oorwinnings teenoor 28 nederlae. Maar op klei is dit ’n ander storie: Hy is in 19 van hul 26 kragmetings ore aangesit.

Ondanks dit alles is dit ’n moeilike affêre om ’n gunsteling te kies. Djokovic is ’n vegter soos min en dit voel onwaarskynlik dat hy weer so ’n groot afdag soos in verlede jaar se Franse Ope-eindstryd sal beleef. Soos Nadal is hy geen hierjy op klei nie en as die bal in die eerste halfuur reg spring vir hom, is hy heeltemal in staat daartoe om die Spanjaard vir die duur van die wedstryd onder die duim te kry.

“Dit is soos geen ander wedstryd nie,” het Djokovic Woensdag volgens Reuters gesê, nadat hy ’n viersteller teen Matteo Berrettini gewen het. “Kom ons wees eerlik daaroor: Dis die grootste uitdaging denkbaar om op klei, en op hierdie baan, teen Nadal te speel. Jy kry nie groter as dit nie.

“Daar is ekstra spanning en verwagtinge. Die atmosfeer is anders wanneer jy saam met hom op die baan stap.

“Maar ek glo in myself. Ek glo ek kan wen, anders sou ek nie hier gewees het nie. Dit gaan ’n groot veldslag wees.”

As Djokovic wel die veldslag wen, wag die kans om nader te skuif aan Nadal en Federer se rekord van 20 Grand Slam-titels. Wen Nadal, sal hy net een wedstryd weg wees daarvan om vir die eerste keer nóg die alleenhouer van die rekord te word.

Meer oor:  Parys  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Franse Ope  |  Roland Garros  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.