Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak Saterdag briesend, Sondag kalm
ROME, ITALY - SEPTEMBER 20: Novak Djokovic of Serb
Novak Djokovic. Foto: Getty Images

Die Serwiër Novak Djokovic het ’n kans om sy New Yorkse teleurstelling van twee weke gelede met die verowering van ’n trofee te salf nadat hy Sondag die eindstryd van die Italiaanse Ope in Rome bereik het.

Djokovic, die wêreld se voorste manstennisspeler, het Sondag met 7-5, 6-3 oor die Noorweër Casper Ruud geseëvier om vir die tiende keer in sy loopbaan vir die eindstryd van die Italiaanse Ope te kwalifiseer. Hy het 12 kishoue geslaan en meer as die helfte van die punte op Ruud se tweede afslaan gewen.

Djokovic het Sondag ’n aansienlik rustiger halfeindstryd gehad as wat sy kwarteindstryd Saterdag was.

Die Serwiër het aan die begin van die week gesê hy sal beslis weer in die toekoms sy humeur verloor (soos gebeur het voor hy twee Sondae gelede in New York ’n bal uit woede teen ’n lynregter vasgeslaan het). “Die toekoms” het toe gouer gekom as wat die meeste mense verwag het: reeds Saterdag.

Djokovic se frustrasies het op pad na ’n kwarteindsege met 6-3, 4-6, 6-3 oor Dominik Koepfer weer oorgekook en hy het sy raket in ’n woedebui stukkend gegooi.

Die topgekeurde Serwiër se uitbarsting het gekom nadat hy nie ’n enkele punt op sy eie afslaan in die sesde pot van die tweede stel kon wen nie. Hy is deur die skeidsregter oor sy gedrag gewaarsku.

“Wel, kom ek vertel vir jou, dit is nie die eerste of laaste raket wat ek in my loopbaan sal breek nie,” het die 33-jarige Djokovic aan verslaggewers gesê. “Ek het dit al voorheen gedoen en ek sal dit waarskynlik weer doen. Ek wil dit nie doen nie, maar wanneer dit gebeur, dan gebeur dit.

“Ek dink dit is hoe ek soms van my woede ontslae raak. En dit is beslis nie die beste boodskap na buite nie, veral nie vir die jong spelers wat my dophou nie.

“Ek moedig dit nie aan nie, definitief nie. Maar kyk, ons is almal mense. Ons almal doen ons bes. Daar was tye dat ek dit nie doen nie en dan is daar tye dat ek dit doen,” sê hy.

Djokovic het wel gesê hy werk aan sy “geestelike en emosionele welstand” om te help om sy emosies in bedwang te hou.

– Reuters

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Italiaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.