Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak se toernooi lok nog ’n groot ster

Novak Djokovic se beplande tennisreeks om die spel in sy wêrelddeel weer op dreef te kry ná die koronavirus-pandemie, het verdere aansien verkry met Duitsland se Alexander Zverev wat sy deelname daaraan bevestig het.

Alexander Zverev gaan ook in Novak Djokovic se tennisreeks ten bate van liefdadigheid speel. Foto: Getty Images

Djokovic, die wêreld se voorste speler, het onlangs aangekondig dat hy die “Adria-reeks” in sy tuisland, Serwië, asook in Bosnië, Kroasië en Montenegro, gaan aanbied.

Djokovic het dié nuus met sy terugkeer aangekondig nadat hy vir twee maande in Spanje gestrand was weens die inperking daar vir die Covid-19-pandemie.

Die reeks wedstryde vir liefdadigheid begin op 13 Junie.

“Goeie nuus, Sascha is op pad,” het Djokovic met verwysing na Zverev, wie se bynaam Sascha is, gesê.

Vanjaar se verslane finalis in die Australiese Ope, Dominic Thiem van Oostenryk, asook Bulgarye se Grigor Dimitrov, ’n voormalige nr. 3-speler, het hul deelname vroeër bevestig.

Djokovic sê Roger Federer herstel nog van sy knieoperasie en daarom het hy hom nie gevra nie. Hy het aan die nuusagentskap dpa gesê hy oorweeg dit om Rafael Nadal (die wêreld se nr. 2) nog te vra, maar hy weet nie of die Spanjaard die uitnodiging sal aanvaar nie.

Wedstryde in die Adria-reeks sal op kleibane gespeel word en die stelle sal korter wees, met ’n speler wat vier potte moet wen om ’n stel te beklink.

Die spelers vra nie verskyningsgeld nie en kan ’n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse kies om te bevoordeel.

Zverev, tans sewende op die wêreldranglys, sal in Serwië en Kroasië te sien wees.

Duitsland se voorste speler het vanjaar in die halfeindronde van die Australiese Ope teen Thiem vasgeval. Dit was sy eerste halfeindstryd in ’n Grand Slam-toernooi. Hy het in 2018 ook die prestigeryke ATP-eindtoernooi in Londen gewen.

* Djokovic sê intussen hy het elke dag tydens die wêreldwye inperking op harde én kleibane geoefen, maar dit nie op sosiale media uitgeblaker nie, omdat hy bang was dat hy ander spelers sou vies maak.

Volgens dié Serwiër weet hy nie of beroepstennis nog gaan hervat vanjaar nie, maar hy neem sy eie reeks ernstig op en wil ook hê die ander spelers moet ’n positiewe ervaring hê. – Sportredaksie, tennisworldusa

Meer oor:  Koronavirus  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Alexander Zverev  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.