Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak soek nie gunsteling-etiket in Oz

Novak Djokovic het met sy oorwinning oor Rafael Nadal Sondag in die eindstryd van die toernooi om die ATP-beker gewys dat sy spelpeil tans witwarm is, maar dié Serwiër het die media ná sy span se triomf in Sydney probeer oortuig dat hy nie die gunsteling is om die Australiese Ope te wen nie.

Novak Djokovic was haas onstuitbaar vir Serwië in die pas afgelope toernooi om die ATP-beker. Foto: Getty Images

Trouens, Djokovic meen die stryd om die eerste Grand Slam-titel van die jaar te wen, is wawyd oop, al het hy ’n verstommende goeie rekord op harde bane en veral dié in Melbourne, waar die Aussie Ope oor ’n week begin.

“Die laaste Grand Slam op ’n harde baan was in New York (verlede jaar se Amerikaanse Ope) en Rafa het dít gewen,” het Djokovic luidens ’n berig op tennis365.com gesê.

“Ek dink nie daar is rêrig oorweldigende gunstelinge nie. Jy het uiteraard vir (Roger) Federer, Nadal en my, wat baie ervaring, ranglysposisies en alles het, so ons sal seker as die drie grootste gunstelinge beskou word.

“Maar dan het jy vir (Daniil) Medvedev, (Stefanos) Tsitsipas en Dominic Thiem, wat ongelooflike tennis speel.

“Die ATP-eindtoernooi was ’n voorbeeld van hoe hulle ontwikkel het as spelers op die groot verhoog. Hulle kan nou die wêreld se beste spelers uitdaag én hulle klop,” het Djokovic gesê.

Daniil Medvedev is een van die Jong Turke wat volgens Novak Djokovic ’n indruk kan maak in vanjaar se Australiese Ope. Foto: Getty Images

Dis egter moeilik om nie dié Serwiër, die wêreld se nr. 2-speler, as die gunsteling in Melbourne te beskou nie.

Hy het ’n spesiale band met daardie Grand Slam-toernooi en het die Australiese Ope reeds sewe keer gewen.

Djokovic, wat Nadal Sondag met 6-2, 7-6(4) geklop het, het verlede jaar se eindstryd in Melbourne in skoon stelle teen die einste Spanjaard gewen.

Federer, wat stil-stil vir vanjaar se Australiese Ope voorberei, was in 2017 én 2018 die kampioen in Melbourne. Hy spog met ses titels in dié toernooi.

Hoewel Nadal al vier Grand Slam-titels op die New Yorkse hardebane van die Amerikaanse Ope gewen het, kon hy nog net een Grand Slam op dié oppervlak in Australië wen (2009).

Nadal het weliswaar in vier eindstryde in Melbourne verloor (2012, 2014, 2017 en 2019). – Sportredaksie

Meer oor:  Australiese Ope  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Atp-Beker  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.