Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak stamp Rafa van sy klei-troon

Die koning is dood. Lank lewe die koning.

Rafael Nadal se heerskappy by Roland Garros is verby, nadat hy Vrydagaand in ’n marathon-halfeindstryd van 4 uur en 11 minute deur die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, uitgeboender is.

Novak Djokovic kyk op na die hemele, nadat hy Vrydagaand die eerste man ooit geword het wat Rafael Nadal in die halfeindronde van die Franse Ope kon verslaan. Foto: Reuters

Die eindtelling was 3-6, 6-3, 7-6(4), 6-2 – en soos dit aandui, moes Djokovic homself eers van die krytvloer lig voor hy Roland Garros se onbetwiste beste ooit van sy troon kon stamp.

Voor Vrydag is Nadal net twee keer in sy loopbaan in sy klei-koninkryk verslaan, in 107 wedstryde. Djokovic is een van die twee mans wat dit kon regkry, met ’n skoonstel-sege oor die kleikoning in 2015 op sy kerfstok. En tog het net agt maande verloop sedert hy self in skoon stelle deur die Spanjaard verneder is, in verlede jaar se eindstryd. Sekerlik het dit letsels gelaat wat nie sommer verdwyn nie?

Dit het beslis so gelyk terwyl Nadal al vyf die wedstryd se eerste potte gewen het, binne net 25 minute. Hy was ver van foutloos – hy het gesukkel om eerste afslane af te vuur en twee dubbelfoute in daardie tydperk gemaak – maar het sy Serwiese teenstander herinner aan verlede jaar se pyn deur hom van hoek tot kant te jaag voor hy punte met bomme afgesluit het.

Djokovic het die druk gevoel, en ritse foute gemaak. Hy het telkens in sy eie pad gaan staan, hetsy deur valhoue op die verkeerde tye te probeer speel of te veel krag agter sy voorarmhoue te plaas.

Sy skouers het gehang en daar was ’n strakheid om sy oë. Hy het hom immers bevind in ’n fliek wat ons almal al voorheen gesien het: as prooi vir ’n vernietigende Nadal op Parys se rooi klei.

Die gety het egter begin draai sonder dat enigiemand dit werklik agtergekom het, toe Nadal vir die eerste keer ’n pot verloor het toe hy die eerste keer moes afslaan vir die stel. Toe hy op breekpunt sy derde dubbelfout van die dag afstuur om die sewende pot te verloor, het hy Djokovic lig in die tonnel gegee wat hy regtig nie moes nie.

Die laaste vyf potte van die stel het 35 minute geduur, met die Serwiër wat al meer pyle uit sy koker getrek het. In die lig daarvan was dit nie ’n verrassing om hom ’n vroeë voorsprong in die tweede stel te sien neem nie – hy was op ’n groot golf van selfvertroue.

Nadal se afslaan het in dié stel verbeter, maar Djokovic is nie verniet die beste terugslaner in wêreldtennis nie. Ongeag hoeveel vonk die Nadal-afslaan gehad het, was Djokovic steeds vasberade om hom van kant tot kant te jaag – ’n taktiek wat soet vrugte afgewerp het.

Met dit alles gesê was Roland Garros nog nooit ’n plek waar spelers ’n maklike dag op kantoor gehad het as Nadal aan die anderkant van die net was nie. Hoewel Djokovic meer gereeld die kitaar in die derde stel geslaan het, het Nadal hom nooit toegelaat om weg te hardloop met die wedstryd nie, en selfs ’n stelpunt in die twaalfde pot gehad.

’n Vyfde agtereenvolgende Franse Ope-kroon (en veertiende in sy loopbaan) is Rafael Nadal nie vanjaar beskore nie. Hy is Vrydag in vier stelle deur Novak Djokovic geklop. Foto: AP

Hy kon dit nie benut nie, wat die stel na ’n valbylpot geneem het, en daar het die duo mekaar omtrent met kanonhoue gepeper.

Die sewende punt was die bepalende een, met Nadal wat Djokovic verwoed van kant tot kant gejaag het, en uiteindelik ruimte aan die linkerkant van die baan bewerkstellig het. Daar was ’n spasie so groot soos ’n waenhuisdeur waarin hy ’n wenhou kon slaan – maar hy het nie rekening met sy adrenalien gehou nie, en die bal te hard geslaan.

Wat ’n voorsprong van 4-3 kon wees, was eerder ’n agterstand van 3-4 – en ’n yslike hupstoot vir die Serwiër. Hoewel Nadal die volgende punt gewen het, het Djokovic hom daarna gebêre met ’n kishou en nog twee groot afslane waarmee die Spanjaard nie raad gehad het nie.

Tot sy krediet is Nadal nie gebreek deur sy nederlaag in die valbylpot nie, en het hy onmiddellik teruggeslaan deur Djokovic se eerste afslaanpot van die vierde stel te wen. Hy het sy afslaan behou om dit 2-0 te maak – maar sou daarna nie weer ’n pot wen nie.

Die son het daarna vinnig gesak vir die kleikoning. Hy het al traer geword voor sy afslane, al langer geneem om sy asem terug te kry en al meer gesukkel om sy stempel af te druk. In die vierde stel het hy drie dubbelfoute gemaak – onder meer om die eerste punt van die heel laaste pot te verloor – en net ses wenhoue geslaan.

Waar Djokovic in twee agtereenvolgende afslaanpotte net net 78 sekondes nodig gehad het om Nadal te stoomroller, het Nadal al drie sy laaste afslaanpotte van die wedstryd verloor omdat hy nie die druk wat Djokovic op hom geplaas het kon hanteer nie.

Die uitslag van die halfeindronde beteken dat Nadal se strewe na die rekord van 21 Grand Slam-titels vir ’n rukkie vertraag is. Dalk selfs belangriker: dit beteken dat Djokovic Sondag vir die eindstryd teen die 22-jarige Stefanos Tsitsipas sal aantree met Slam-kroon nr. 19 in sy visier. En wen hy dit, is hy net een agter Federer en Nadal op dié lys.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Franse Ope  |  Rafael Nadal  |  Roland Garros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.