Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak struikel, maar staan op vir 8ste kroon
Stééds Koning van Australië . . . Novak Djokovic moes Sondag bitter diep delf om ’n merkwaardige vyfstel-marathon teen Dominic Thiem te wen.Foto: Reuters

Die wenner was toe soos vooraf voorspel is. Die wentelling, tydsduur en wyse van seëvier? Nee, dít het min, indien enige, mense sien kom.

Novak Djokovic is Sondag in Melbourne vir die agtste keer as Australiese Ope-kampioen gekroon, maar eers ná ’n vyfstel-marathon teen Dominic Thiem wat drie uur en 59 minute geduur het en waarin sy emosies oral op die spektrum was.

Die wentelling was, vir die rekord, 6-4, 4-6, 2-6, 6-3, 6-4 – maar dis bloot koue syfers. Waarvoor hierdie eindstryd skouspel-status verwerf het, is die uitmuntende houe van weerskante van die baan, die sielkundige staal van albei deelnemers en die wipplank-aard van tennis tussen twee vasberade krygers.

Die wêreld het vooraf voorspel Djokovic sou op ’n drafstap wen, danksy sy wonderlike spel die laaste twee weke en die feit dat hy in sewe vorige Australiese Ope-eindstryde nooit verloor het nie.

‘Koning van Australië,’ het Thiem hom gedoop ná sy halfeind-sege Vrydag oor Alexander Zverev – en geen sterfling het dit betwis nie. Djokovic het inderdaad nie sy gelyke in Melbourne nie, met meer Aussie Ope-titels as enige ander man.

In die eerste stel wou dit lyk of die verwagte draaiboek inderdaad gevolg sou word, met Thiem senuweeagtig en Djokovic vasberade en vreesloos.

Maar ’n vreemde ding het in die paar minute tussen die eerste twee stelle gebeur: Thiem se geloof het gegroei, terwyl Djokovic skynbaar oorgerus gaan sit en raak het.

Die verskil in benaderings was onmiddellik duidelik. Skielik het daar towerhoue van die Thiem-raket gevloei. Skielik het Djokovic sy humeur vir die kleinste steurings – soos ’n oordrewe raserige Thiem-ondersteuner – verloor. Hy het selfs ’n eerste afslaan verloor omdat hy te lank gevat het om die bal te dien.

Hy het daarna drie dubbelfoute gemaak en net vier van 11 punte op sy eie tweede afslaan gewen. Hy was ver van die selfversekerde speler waaraan die wêreld so gewoond is.

Toe hy vir die derde stel uitstap met hangskouers, het ’n mens geweet die gety gaan moeilik vir hom draai. Aan die anderkant van die net het Thiem sy grootste wapen – die dapperheid wat hom in die kwarteind teen Rafael Nadal oor die lyn gedra het – onthou en doeltreffend aangewend. Daar was geen huiwering in sy houe nie en hy het die een ná die ander bal soos vuurpyle verby Djokovic gelanseer.

Dominic Thiem was vir twee stelle onstuitbaar, maar kon nie met Djokovic saamleef toe die Serwiër besluit het om terug te veg nie.Foto: AP

Voor die vierde stel was dit egter of Djokovic een of ander towertonikum gedrink het, want toe hy weer die baan betree het, was hy die veghond van ouds.

Hy het elke moeilike vraag wat aan hom gestel is, met onderskeiding beantwoord, reg gestaan om enige pyl uit die Thiem-koker weg te swiep.

Dit het die Oostenryker so ’n bietjie gebreek.

Thiem se toorkunsies het verdwyn. Die huiwering was terug in sy tennis en die dapperheid daarmee saam weg.

’n Mens moet natuurlik simpatie hê met sy situasie. Op 26 het hy Sondag in sy derde Grand Slam-eindstryd gespeel, maar die vorige twee was by Roland Garros teen die Koning van Klei, Nadal. Dis beswaarlik ’n plek waar ’n jong speler kan leer hoe om homself in ’n wenposisie in ’n Slam-eindstryd te handhaaf, bloot omdat hy daar nooit in ’n wenposisie kon kom nie.

Djokovic, daarenteen, het Sondag die 17de Grand Slam-titel van sy goue loopbaan verower. Hy het al alles beleef: skoonstel-oorrompelings, marathon-nederlae, seges wat uit die kake van seker nederlae gered is . . .

Sondag s’n val sonder twyfel in laasgenoemde kategorie. Ná drie stelle was daar niks in sy lyftaal wat aangedui het ’n vyfde stel is ’n moontlikheid nie. Maar weer is ons herinner: wanneer Djokovic op die tennisbaan is, is enigiets moontlik. Wanneer hy besluit hy sal nie gaan lê nie, voeg hy gewoonlik die daad by die woord. Sondag het hy weereens in die belangrikste fase van die wedstryd die nodige verbeelding, vasberadenheid en verskeidenheid gehad om sy eie geluk te maak.

Die Serwiër is nou die enigste speler in die Ope-era wat Slam-krone in drie verskillende dekades kon wen (sy eerste was in 2008) en weer die wêreld se voorste speler. Hy is met 17 titels net twee agter Nadal (19) en drie agter Roger Federer (20) se totale.

Die klub van mense wat glo hy sal uiteindelik sy loopbaan met meer as hulle (en dus enigiemand anders) afsluit, groei al vir maande. Sondag sou dit nog ’n hoop nuwe lede bygekry het.

En wat van Thiem, wat so naby gekom het, maar tog so ver?

Die algemene opvatting in wêreldtennis is dat hy die beste huidige speler sonder ’n Grand Slam-titel is – maar dít sal gou verander. Dié jong man is net te goed om nie tennis se hoogste berg te bestyg nie, en vroeër eerder as later.

Die son is besig om te sak op die era van die Groot Drie. Maar met spelers soos Thiem op toer, bly manstennis se toekoms blink.

Djokovic het soveel te kenne gegee in sy wennerstoespraak.

“Ek moet begin deur geluk te sê aan Dominic vir ’n ongelooflike toernooi. Dit was nie in jou sterre geskryf vanaand nie, maar jy het my ’n baie moeilike wedstryd gegee en baie naby aan wen gekom. Jy het nog baie tyd in jou loopbaan, ek is seker jy sal nog ’n Slam wen. En nie net een nie, baie meer as een,” het hy gesê.

Thiem was duidelik teleurgesteld, maar het ook verwys na die hoë standaard wat Grand Slam-sukses in die huidige era vereis.

“Julle (Djokovic en sy span) het gehelp om tennis tot ’n heel nuwe vlak te dra en ek is regtig bly ek kan in hierdie tyd meeding,” het hy gesê.

Meer oor:  Australiese Ope  |  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Eindstryd  |  Dominic Thiem  |  Melbourne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.