Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak te sterk vir Portugees Sousa

Hy was weliswaar nie op sy skerpste of gemaklikste nie, maar dit het Novak Djokovic geen aks teruggehou nie terwyl hy die Portugees João Sousa se Amerikaanse Ope Maandag beëindig het.

Novak Djokovic gooi sy hande in die lug ná hy Portugal se Joao Sousa in die vierde ronde van die Amerikaanse Ope geklop het. Foto: USA Today Sports

Die 31-jarige Serwiër sal vir die elfde keer in sy loopbaan in die kwarteindronde van New York se Slam-toernooi speel, nadat hy Sousa in die Arthur Ashe-stadion met 6-3, 6-4, 6-3 verslaan het.

Die wedstryd het ’n uur en 58 minute geduur.

Vir die grootste deel van die kragmeting was dit eendagverkeer, met Djokovic wat ses breekpunte bewerkstellig en vyf daarvan benut het. Sousa het dit een keer reggekry om op die Djokovic-afslaan deur te breek, in die tweede stel, maar dadelik daarna weer boedel oorgegee op sy afslaan.

Op ’n snikhete middag in New York het Djokovic met tye tam en lusteloos gelyk, maar teen die onbestendige Sousa was dit nooit ’n probleem nie. Die Portugees het ’n klomp uitstekende houe geslaan, maar ook ’n paar breinfloutes gehad. Djokovic het op die dag nie sy hoogste rat nodig gehad nie.

Daardie hoogste rat gaan hy waarskynlik wel nodig hê in sy volgende wedstryd, waar Roger Federer moontlik wag.

Federer se vierderonde-wedstryd teen John Millman was geskeduleer vir die aandsessie in New York.

’n Wedstryd tussen dié twee swaargewigte hoort natuurlik nie in die kwarteindronde nie. Djokovic is egter steeds relatief laag op die keurlys (sesde), ondanks onlangse goeie titelseges in Wimbledon en Cincinnati.

Die tweede gekeurde Federer het ’n stadige begin aan die toernooi gehad, voor ’n uitmuntende vertoning teen Nick Kyrgios in die derde ronde die wêreld gewys het hoeveel woema nog in daardie 37-jarige bene is. En hoewel Djokovic ná sy wedstryd Maandag gespot het dat hyself ook nie meer 21 is nie, is hy duidelik weer terug op die standaard wat hom in sy middel-20’s haas onkeerbaar gemaak het.

* Die Japanner Naomi Osaka het haar Stryd van die 20-jariges teen Belo-Rusland se Aryna Sabalenka gewen om vir die eerste keer in haar loopbaan die kwarteindstryd van die Amerikaanse Ope te haal.

Albei spelers was by tye hul eie grootste vyand – Sabalenka het 42 ongedwonge foute gemaak en Osaka 32 – en die Japanse vrou het eindelik net geseëvier danksy ’n paar minute van kalmte in die pylvak.

Sy was baas met 6-3, 2-6, 6-4.

Uitslae.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Naomi Osaka  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.