Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Van Franse berg terug na tennis se kruin
Novak Djokovic het Sondagaand in New York die 14de keer in sy loopbaan ’n Grand Slam-trofee gesoen. Foto: Getty Images

Vir meer as 20 jaar het die Franse skilder Paul Cézanne Mont Sainte-Victoire as sy muse gebruik. Wie sou kon dink dié berg sou meer as ’n eeu later ook as inspirasie dien vir ’n kunstenaar van ’n ander aard?

Die Serwiër Novak Djokovic se loopbaan het die laaste drie maande weer skop soos in sy gloriedae. Toe hy Maandagoggend wakker geword het, was dit as die heersende Wimbledon- én Amerikaanse Ope-kampioen – en dít nadat hy vir twee jaar nie hond haaraf kon maak op die Grand Slam-verhoog nie.

Die katalisator vir sy nuwe sukses, het Djokovic Sondag aan die wêreldmedia vertel, was ’n vyfdaagse staptoer na Mont Sainte-Victoire saam met sy vrou in Junie. Net voor dít is hy in die kwarteindronde van die Franse Ope deur die wêreld se nr. 72-speler geskok. Hy het nodig gehad om sy kop skoon te kry.

“Ek onthou een spesifieke dag toe ons daardie berg geklim het. Dit was nogal hoog, ons het eers ná drie ure bo gekom,” het Djokovic volgens Reuters gesê.

“Ons het daar gaan sit en net uitgekyk oor die wêreld van daardie perspektief, net nuwe inspirasie en nuwe motivering ingeasem.

“Ek het gedink aan tennis en die emosies wat dit in my losmaak. Dit was alles positief. Dit het net gevoel asof ek ’n nuwe asem vir die sport kry. Die res is geskiedenis wat uitslae en my gevoelens betref. Daar is ’n hele golf van energie waarop ek van daardie dag af ry.”

Die ganse tennis-somer het sedertdien aan Djokovic behoort.

Hy het Rafael Nadal in ’n asemrowende Wimbledon-halfeindronde geklop en daarna maalvleis van Kevin Anderson in die eindstryd gemaak.

In Cincinnati het hy met ’n rits swaargewigte afgereken – Grigor Dimitrov, Milos Raonic, Marin Cilic en Roger Federer – om die eerste speler tot dusver te word wat elke Meesterstitel in wêreldtennis kon wen.

In New York het hy ’n makliker pad na die titel gehad. Roger Federer is deur John Millman uit sy pad verwyder, Kei Nishikori was in die halfeindstryd klei in sy hande en Juan Martin del Potro in Sondag se eindstryd so mak soos ’n lammetjie.

Maar dit verminder nie die grootsheid van wat Sondag se sege, met 6-3, 7-6 (7/4), 6-3, hom in die sak gebring het nie.

’n Verheugde Novak Djokovic ná sy sege Sondag in die eindstryd van die Amerikaanse Ope. Foto: AP

Die 31-jarige Serwiër het nou 14 Grand Slam-titels agter sy naam. Dit was net nege jaar terug nog die wêreldrekord, agter Pete Sampras se naam. Nou het drie spelers van die volgende generasie – Djokovic, Nadal (17 Grand Slam-titels) en Federer (20) Sampras ingekatrol.

Daar is geen meer twyfel dat Djokovic een van tennis se heel grotes is nie.

Dis die derde keer in sy loopbaan wat Djokovic Wimbledon en die Amerikaanse Ope in dieselfde jaar kon wen. Met sy jongste Slam-triomf het hy geklim tot derde in die wêreld, met net Nadal en Federer voor hom.

Nadal is verlede week in die halfeindronde in New York weer neergevel deur ’n kniebesering, terwyl Federer uit twee monde praat. Djokovic, daarenteen, is terug op sy heel beste: weer vreesloos, weer kreatief, weer die speler met die beste terughoue ter wêreld en weer propvol selfvertroue.

En dít omdat hy ’n Franse berg gaan klim het, en die pad terug na tennis se kruin gevind het.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.