Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak veg terug, verslaan Federer

In die eerste ses potte van sy Australiese Ope-halfeindstryd teen Roger Federer, het Novak Djokovic albei sy eerste afslaanpotte verloor en drie breekpunte afgeweer in sy derde.

As enigiemand toe voorspel het die Serwiër sou die hardekwas-Switser aan die anderkant van die net in skoon stelle verslaan, sou hulle uitgelag word. En tog is dit presies wat gebeur het.

Geen berg te hoog . . . Die Serwiër Novak Djokovic is terug in die eindstryd van die Australiese Ope nadat hy Roger Federer Donderdag in skoon stelle verslaan het. Foto: Reuters

Djokovic was binne net meer as twee ure baas met 7-6 (7/1), 6-4, 6-3 danksy ’n vertoning waarin hy die tenniswêreld weer herinner het dat hy nóóit gaan lê nie.

In die eerste driekwartier van die kragmeting was Djokovic eenvoudig nie in die prentjie nie. Hy het geen wenhoue geslaan nie, ongedwonge foute ingeryg en knaend in ongeloof opgekyk na sy afrigters.

Federer moes in sy kwarteindstryd teen Tennys Sandgren sewe wedstrydpunte afweer om staande te bly en het las gehad van lies- en beenbeserings. Djokovic het erken hy het gedink die beserings sal Federer uit die staanspoor ’n lam ter slagting maak, maar daar was aanvanklik geen tekens daarvan nie. Die Switser se beweeglikheid, voorarm- en nethoue was in die eerste paar potte so asemrowend soos altyd.

Die gety het egter teen hom gedraai toe hy op 4-1, 0-40 drie breekpunte op die Djokovic-afslaan verbrou het. Djokovic het net die fynste reukie van swakheid nodig om toe te slaan en nadat hy herstel en daardie pot gewen het, het sy selfvertroue in strome teruggevloei.

Roger Federer het vier van die halfeindstryd teen Novak Djokovic se eerste vyf potte gewen, maar daarna spoed verloor. Foto: Getty Images

Terselfdertyd het Federer hom uiteindelik begin steur aan sy beserings en waarvoor hy ná die eerste stel behandeling ontvang het. Die momentum in die wedstryd het in ’n oogwink gedraai en die Switser het nooit weer soos die beter speler gelyk nie.

“Dit kon natuurlik baie anders verloop het as hy daardie breekpunte benut het,” het Djokovic ná die wedstryd in sy TV-onderhoud te kenne gegee. “Hy het regtig goed begin en ek was baie senuweeagtig. Ek het groot respek vir Roger dat hy uitgekom het, al het hy duidelik seer gehad en al was hy nie naby sy beste nie.

“My fout aan die begin was om meer te fokus op hoe hy beweeg en wat hy doen, as om te konsentreer op die uitvoering van my houe. Dis hoekom ek 4-1 agter was, maar gelukkig het ek myself uit daardie gat gegrawe.

“Dit was baie belangrik om daardie eerste stel te wen, want daarna kon ek ontspan.”

Die wedstryd in Melbourne het eggo’s gehad van die duo se vorige kragmeting, in die Wimbledon-eindstryd. Toe was Federer deurgaans die beter speler, maar het hy verloor omdat Djokovic in die valbylpotte sielkundig sterker was. In ’n eerste stel Donderdag wat die Switser eintlik op ’n drafstap moes wen, het sielkundige staal weer die verskil gemaak.

Die laaste twee stelle was vir Djokovic ’n blote formaliteit. Ongeag wie Sondag in die eindstryd tussen hom en sy agtste Australiese Ope-titel (en 17de Slam) probeer staan, sal as reuse-buiteperd aantree, met die Serwiër wat reeds weer onderstreep het hy ken nie van opgee nie.

Wie in die eindstryd oorkant hom gaan aantree, sal Vrydag bepaal word, wanneer die jongelinge Alexander Zverev en Dominic Thiem in hul halfeind slaags is. Thiem het Zverev al ses keer ore aangesit en net twee keer verloor, maar die jong Duitser sal hom nie daaraan steur nie in sy eerste besoek aan die Slam-halfeindronde.

VOLLEDIGE UITSLAE

Meer oor:  Australiese Ope  |  Novak Djokovic  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.