Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak verbeter Rafa Nadal se rekord
Novak Djokovic Foto: Getty Images

Novak Djokovic het Maandag in Rome met sy oorwinning in die eindstryd van die Italiaanse Ope geskiedenis gemaak en gewys hy het planne om voort te bou op sy enkele triomf vier jaar gelede op Roland Garros.

Die eerste gekeurde Serwiër het Diego Schwartzman van Argentinië met 7-5, 6-3 getroef.

Dit was Djokovic se vyfde oorwinning in tien eindstryde sedert 2008 in die Italiaanse hoofstad.

Tog kon hy die welslae nooit werklik in die Franse Ope herhaal nie, waar hy in 2016 in sy vierde en laaste eindstryd uiteindelik die eerste en enigste keer nog glorie gesmaak het.

Die wêreld se nommereen-speler het nietemin met sy oorwinning ’n rekord van Rafael Nadal agter sy naam gevoeg. Djokovic se 36 oorwinnings is nou die meeste Meesters 1000-titels deur ’n speler.

“Dit was ’n wonderlike en baie uitdagende week. Ek dink nie ek het altyd my beste tennis gespeel nie, maar ek het met by beste vorendag gekom toe dit verlang is in omtrent elkeen van die wedstryde,” sê Djokovic, wat op 33 die oudste kampioen in Rome geword het.

Hy sê dit was baie bevredigend en hy was trots dat hy ’n vyfde rat kon vind toe dit nodig was.

“Wat Parys betref, ek kon seker nie vir ’n beter toernooi as hier in Rome gevra het nie.”

Die agtste gekeurde Schwartzman wat vir Nadal in die kwarteind getem het, was vroeg voor.

Djokovic het in die eerste stel ’n agterstand van 0-3 uitgewis toe hy vier potte agtereenvolgens gewen het.

Schwartzman het weer die voortou met die begin van die tweede stel geneem, net om sy eie afslaan ook te verloor.

Die Argentyn het op 2-2 ook twee breekpunte verbeur om weer voor te loop.

Djokovic het met die agtste pot deurgebreek om dit 5-3 te maak om vir die wedstryd af te slaan en dit 5-0 volgens atptour.com teen Schwartzman te maak.

• In die vroue-eindstryd het die eerste gekeurde Simona Halep van Roemenië ná net meer as ’n halfuur die eerste keer in haar loopbaan die beker in Rome gelig.

Dit was nadat die tweede gekeurde kampioen Karolína Plíšková van Tsjeggië die wedstryd met ’n besering op 6–0, 2–1 in Halep se guns prysgegee het.

Dit was derde keer skeepsreg vir die wenner wat in 2017 en 2018 ook ’n finalis was.

Dit was Halep, wenner van die Franse Ope in 2018, se tweede titel ná die Covid-19-inperking nadat sy ook in Praag die wenner was.

Simona Halep Foto: Getty Images

Die 28-jarige Halep het nou haar laaste 14 wedstryde agtereenvolgens gewen nadat sy in Februarie met die toernooi in Dubai die wenner was.

Plíšková het hul laaste drie wedstryde gewen.

Haar linkerdy was stewig verbind en sy het gesukkel om ritme te kry met haar eerste afslaan, volgens wtatennis.com. Sy het voor die tweede stel behandeling van die fisioterapeut ontvang.

Plíšková het ná die tyd op Twitter gesê dis die eerste keer in haar loopbaan dat sy weens ’n besering moes uittree.

• Suid-Afrika se Kevin Anderson het soos met die Italiaanse Ope weer nie die eerste ronde van die Duitse Ope Maandag in Hamburg oorleef nie.

Die Amerikaanse kwalifiseerder Tommy Paul het Anderson in net minder as twee uur met 6-4, 0-6, 6-4 geklop.

Anderson se landgenoot Lloyd Harris het darem sy eerste wedstryd van die kleibaanseisoen gewen toe hy aan die wenkant in sy Challenger-toernooi was.

Die 23-jarige Harris kon nie verlede week vir die Italiaanse Ope kwalifiseer nie, maar het daar aangebly vir die Challenger-toernooi in Forli.

Die sesde gekeurde Harris het drie stelle benodig om die Italianer Andrea Arnaboldi met 7-6(4), 1-6, 7-6(4) Maandag te klop.

Amerika se Frances Tiafoe is die eerste gekeurde in die toernooi, terwyl die Italiaanse tiener Lorenzo Musetti ná sy paar skokoorwinnings in Rome ook in aksie in Forli is. – Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.