Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak wéér te hardekwas om oor te gee

Op die dag van Novak Djokovic se twaalfde verjaarsdag is die klanke van “Veels geluk, liewe maatjie” buite die woonstel waarin hy en sy gesin in Belgrado gewoon het, uitgedoof deur die bomontploffings wat die Joego-Slaafse Oorlog gekenmerk het.

Hy moes as seuntjie in leë swembaddens oefen en binnetoe vlug wanneer hy die Nato-vliegtuie hoor aankom het.

Miskien verduidelik dít waarom die Serwiër so moeilik ontsenu word wanneer hy op tennis se heel grootste verhoë aan die ontvangkant van sy teenstanders se woede en passie is. En waarom hy so goed daarmee is om die bordjies te verhang net wanneer hulle dink hulle het sy nommer.

Novak se dag – al weer! Novak Djokovic pronk met die Musketierstrofee wat hy Sondag in die Franse Ope-eindstryd verower het deur in ’n vyfsteller oor Stefanos Tsitsipas te seëvier. Foto: Getty Images

Maar wat Djokovic so hardekwas gemaak het, is deesdae minder belangrik as dát hy dit is. Want daardie eienskap, meer as enige ander, is die rede dat daar nou reeds 19 Grand Slam-titels agter sy naam staan – én waarom ons maar net kan bespiegel oor hoeveel hy nog gaan inryg.

Die 34-jarige Serwiër het Sondag in Parys een van die heel grootste oorwinnings van sy loopbaan behaal toe hy ’n agterstand van twee stelle teen nul in die Franse Ope-eindstryd teen Stefanos Tsitsipas uitgewis het om dié jong Griek in vyf stelle te verslaan.

Dit het vier uur en 11 minute geneem voordat die wentelling van 6-7(6), 2-6, 6-3, 6-2, 6-4 in die rekordboeke opgeteken kon word. Dis die presiese tydsduur van sy halfeind-sege Vrydag oor Rafael Nadal – wat beteken dat die wêreld se voorste speler binne net 48 uur byna nege ure nodig gehad het om Grand Slam-titel nr. 19 te beklink.

Die merkwaardigste daarvan is dat Djokovic die varser speler was aan die einde van die eindstryd, al het hy te staan gekom teen ’n man 12 jaar jonger as hy.

Tsitsipas, wat in sy eerste Grand Slam-eindstryd gespeel het, het natuurlik aansienlik minder vyfstel-uitdagings agter hom as Djokovic, en het vanselfsprekend in sy korter loopbaan nog nie so baie moeilike vrae soos die kampioen (Sondag in sy 29ste Slam-titelstryd) gekry nie. Juis dit was teen die einde sy doodsteek, want hoewel hy tot in die heel laaste pot steeds praghoue oor die net kon stuur, het sy gebrekkige ervaring op dié vlak beteken dat hy nie vinnig genoeg kon aanpas by die afwisseling in Djokovic se spel nie.

Stefanos Tsitsipas het soos ’n tier geveg vir sy eerste Grand Slam-titel, maar hom vasgeloop teen ’n man wat weier om boedel oor te gee. Foto: AP

Die verwagting vooraf was dat Tsitsipas blote kanonvoer sou wees, nadat Djokovic die Koning van Klei, Nadal, in Vrydag se halfeindronde tot ’n skaduwee van homself afgetakel het. Tsitsipas het ook ’n lang halfeindstryd gewen, teen Alexander Zverev, maar die algemene gevoel was dat hy nie oor genoeg truuks beskik om die wêreld se voorste speler so bewerig te maak soos hy vir Zverev het nie.

Ná die tweede stel was dit duidelik dat daardie mening oningelig was. Daar was min te kies tussen die paar in die eerste stel, maar nadat Tsitsipas dit in ’n valbylpot gewen het, het hy sy ouer teenstander in die tweede rondgejaag met die kalmte en outoriteit van ’n ou hand. Die kat was in die hoenderhok, met Djokovic se oë wat al hoe wyer oopgesper het en sy tweede afslaan ’n groot swak punt.

’n Mens moet egter onthou dat ons hierdie fliek al voorheen gesien het. Minder as agttien maande gelede, in die eindstryd van 2020 se Australiese Ope, was Djokovic ná drie stelle met 1-2 agter, met Dominic Thiem vol geloof. In 2019 se Wimbledon-eindstryd het dieselfde teen Roger Federer gebeur.

Tog het hy albei daardie wedstryde gewen.

Toe die Serwiër dus Sondag in die derde stel begin om Tsitsipas se ritme en selfvertroue weg te kap, was niemand wat sy loopbaan gevolg het vreeslik verbaas nie. En toe hy in die vierde weer die spel begin lewer wat hom een van die mees gevreesde teenstanders in wêreldtennis maak, het ’n mens geweet Tsitsipas sal iets drasties moet doen om sy titeldroom lewend te hou.

Die jong Griek kon dít nie doen nie. Sy moed is gebreek deur die gemak waarmee Djokovic valhoue uit die agterbaan en wenhoue by die net geslaan het. Sy geloof is weggebeitel deur die gemak waarmee die Serwiër sy eie afslaanpotte gewen het. En sy energie is getap deur die geveg wat hy in die laaste twee stelle op sy afslaan moes opsit.

Ná die wedstryd was Tsitsipas sigbaar verpletter. Djokovic en die 1992-kampioen, Jim Courier, se versekering dat daar groot sukses in sy toekoms lê, het nie ’n spier in sy gesig verroer nie. Dit was nie wat hy so kort ná sy eerste eindstryd wou hoor nie.

Maar hulle is nie verkeerd nie. Vir drie stelle het die jongeling so goed gegee soos hy ontvang het, en vir ’n stel en ’n half boonop die meeste reëls gemaak. Dis onafwendbaar dat hy nog goue dae op die Grand Slam-verhoog gaan hê.

Wat Djokovic aanbetref, het hy natuurlik al vele daarvan gehad – en nog, lyk dit, is het einde niet.

Danksy dié sege kort Djokovic nou net een verdere Grand Slam-titel om Federer en Nadal se Slam-rekord van 20 enkelspeltitels te ewenaar. En met Wimbledon (waarin hy ’n vyfmalige kampioen is) en die Amerikaanse Ope (waarin hy drie titels het) oor op die kalender, kan hy teen September daardie rekord hou.

Boonop het Djokovic nou iets gedoen wat nie Nadal of Federer kon nie. Hy het Sondag die eerste speler in die ope era geword wat al vier die Grand Slam-toernooie minstens twee keer kon wen.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Stefanos Tsitsipas  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.