Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Novak wil dan nóg stewiger in saal sit
Novak Djokovic se fokus is nou daarop om sy plek boaan die wêreldranglys te verstewig.Foto: Getty Images

Novak Djokovic het reeds een van sy vroeë doelwitte vir die jaar, om weer die wêreld se nommereen-speler te wees, verwesenlik en nou is die uitdaging om dié plek te konsolideer.

Só sê die Serwiër, wat onlangs sy Australiese Ope-titel suksesvol in Melbourne verdedig het.

Djokovic het die jaar in die tweede plek agter Rafa Nadal op die wêreldranglys begin.

Hy het toe ses enkelspel-oorwinnings onderweg na sy land se sege in die ATP-bekertoernooi behaal, waarna hy ook die Aussie Ope onoorwonne afgesluit het.

Nou, met ’n paar groot toernooie wat op hardebane in Amerika voorlê, meen hy dit bied ’n gulde geleentheid om sy ranglysposisie te verstewig.

“Aan die begin van die seisoen wou ek so gou moontlik die top-posisie herwin,” het die 17-malige Grand Slam-wenner aan SportKlub gesê.

“Dinge het mooi uitgewerk met Nadal wat reeds in die kwarteindronde verloor het. Nou is die bal in my baan.”

Volgens Djokovic is sy nuwe doelwit om die Franse Ope in Mei met ’n stewige voorsprong op die ranglys binne te gaan.

Sy volgende twee groot toernooie is die Indian Wells-meesters (Maart) en Miami Ope (einde Maart, vroeg April). Hy het verlede jaar onderskeidelik in die ronde van 32 en 16 in dié toernooie verloor, wat beteken dat hy nie baie ranglyspunte hoef te verdedig nie en trouens heelwat punte kan insamel met ’n paar sterk vertonings.

Wat sy kleibaan-vertonings verlede jaar betref, het hy die kwarteindronde in Monte Carlo gehaal, die Madrid Ope gewen, in die eindstryd van die Italiaanse Ope verloor en die halfeindronde van die Franse Ope gehaal.

Hy sal dus hard moet werk op klei om sy posisie te verbeter, wat verduidelik waarom hy in die VSA reeds ’n buffer wil opbou.

“Ek hoop vir sukses op die hardebane (in die VSA). Ek het vroeër in my loopbaan goed gevaar by Indian Wells en in Miami.

“Die laaste paar jaar het ek egter daar gesukkel, wat beteken ek kan ranglyspunte daar insamel.”

Dominic Thiem, wat ’n vyfstel-riller teen Djokovic in die eindstryd van die Australiese Ope verloor het, het verlede jaar sy eerste Meesterstitel by Indian Wells gewen, terwyl Roger Federer (tans nr. 3 op die wêreldranglys) in Miami die verdedigende kampioen is. – TeamTalk

Meer oor:  Wêreldranglys  |  Novak Djokovic  |  Indian Wells  |  Tennis  |  Franse Ope  |  Miami
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.