Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Nuwe kampioene in VSA gekroon
Belinda Bencic van Switserland nadat sy die kampioen Naomi Osaka van Japan uitgeboender het.Foto: Getty Images

’n Nuwe mans- én vroue-kampioen sal die naweek in die Amerikaanse tennisope in New York gekroon word.

Dit volg ná die eerste gekeurde Naomi Osaka van Japan Maandag in die vierde ronde deur die 13de gekeurde Belinda Bencic van Switserland geskok is ’n dag nadat ’n skouerbesering die manskampioen, Novak Djokovic, se aanslag in die wiele gery het.

Die 22-jarige Bencic het met 7-5, 6-4 haar vierde agtereenvolgende sege oor Osaka behaal. Twee van die seges was vanjaar in Indian Wells en Madrid.

Bencic het met haar oorwinning die tweede keer in vyf probeerslae die kwarteind op Flushing Meadows gehaal.

Osaka se nederlaag beteken dat daar ’n nuwe nommer een Maandag op die ranglys gaan wees.

Bencic was vars en uitgerus vir die wedstryd nadat Anett Kontaveit in haar vorige wedstryd onttrek is.

Osaka het met die wedstryd wat onder dak beslis moes word met die intrapslag haar eerste afslaanpot verloor.

Sy het ook gesweet om haar tweede afslaanpot te wen waarin sy toe vier breekpunte teen haar afgeweer het.

Dit was so hittete 0-3, maar sy het vasgebyt en dit ook 2-2 gemaak toe sy met die vierde pot van die wedstryd op Bencic se afslaan deurgebreek het.

Sy het net na haar ou self begin lyk toe Bencic met die 11de pot weer ’n deurbraak bewerkstellig het om op 6-5 vir die eerste stel af te slaan wat sy toe in 48 minute gewen het.

Bencic kon nie ’n enkele kishou moker nie, maar haar kragtige houespel was net te goed vir Osaka wat soms traag voorgekom het.

Bencic kon nie ’n enkele kishou moker nie, maar haar kragtige houespel was net te goed vir Osaka wat soms traag voorgekom het.

Sy het Osaka se afslane vroeg ingewag en met mening teruggejaag.

Die Switser het in die vyfde pot van die tweede stel die voortou geneem toe sy drie breekpunte gehad het en die kampioen ’n dubbelfout op 0-40 begaan het.

Dié enigste deurbraak was genoeg om die tweede stel en wedstryd te beklink. Sy het aan die einde ook die eerste van haar drie wedstrydpunte benut

Bencic gaan in die kwarteindronde te staan kom teen die 23ste gekeurde Donna Vekic van Kroasië wat die 26ste gekeurde Julia Goerges van Duitsland in ’n dramatiese wedstryd geklop het om die eerste keer die kwarteind op Flushing Meadows te haal.

Dit het aan die begin na eenrigtingverkeer gelyk, maar Vekic het mooi teruggeveg om dit 6-6 te maak,

Goerges het die eerste stel met 7-6 beklink en sy het op 5-4 op haar afslaan ’n wedstrydpunt gehad.

Vekic het weer teruggeveg, dit afgeweer en toe ook die beslissende stel gewen om met 6-7(5), 7-5, 6-3 te wen.

Novak Djokovic stap van die baan af nadat ’n skouerbesering sy Amerikaanse Ope kortgeknip het.Foto: Getty Images

*Die wêreld se nommereen-manspeler Djokovic moes Sondag in sy wedstryd in die vierde ronde weens ’n skouerbesering halt roep teen Stan Wawrinka.

Die 32-jarige Djokovic het in die derde stel op 1-2 besluit om die wedstryd prys te gee nadat Wawrinka die eerste twee stelle gewen het.

Hy sê dat dit darem nie die einde van sy tennisjaar is nie.

Hy het ’n rekord van Pete Sampras in die visier en hoop om gou weer op die baan te wees.

Djokovic beplan om in vier weke terug te keer vir die Japanse Ope ter voorbereiding vir die Sjanghai-meersterstoernooi waar hy die kampioen is.

Sy doelwit is om die jaar weer as die voorste speler af te sluit en die rekord te ewenaar van Sampras, wat dit ses keer in sy loopbaan reggekry het.

Hy sal ’n klompie wedstryde moet wen om dit te vermag.

Rafael Nadal, wat 140 punte voor Djokovic is in die wedloop na die Jaareindtoernooi in Londen, kan die gaping tussen hulle verder vergroot in New York.

“Die seisoen is nog nie verby nie. Daar is heelwat groot toernooie wat voorlê waarin ek my ranglyspunte kan verdedig om die nommereen-plek te behou.

Ek hoop nou net ek kry ’n kans om te speel. Ek sal graag in die toernooie in Asië wil gaan speel wanneer ek weer oorgehaal is.
Novak Djokovic

“Ek hoop nou net ek kry ’n kans om te speel. Ek sal graag in die toernooie in Asië wil gaan speel wanneer ek weer oorgehaal is,” het Djokovic aan atptour.com gesê.

“Dan is daar ook nog die binnenshuise seisoen. Ek het in die verlede nogal goed in die laaste paar maande van die jaar gevaar.”

Die vorige keer dat Djokovic hom gedurende ’n Grand Slam-toernooi onttrek het, was in 2017 teen Tomas Berdych in die kwarteindronde van Wimbledon.

Dié Serwiër, met 16 Grand Slam-titels op sy kerfstok, maak geen geheim daarvan nie dat hy Roger Federer se rekord van 20 titels wil verbysteek.

Federer het nog ’n kans om sy rekord verder te verbeter nadat hy Sondag die kwarteindronde in New York gehaal het.

Meer oor:  Naomi Osaka  |  Belinda Bencic  |  Novak Djokovic  |  Flushing Meadows  |  New York  |  Amerikaanse Ope  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.