Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Olympia kan Serena uit Spele hou

As jy 39 jaar oud is, nog nie vir een dag van jou driejarige se lewe afwesig was nie en reeds vier Olimpiese goue medaljes in jou trofeekamer kon ophang, is dit nie ’n vreeslike groot verrassing as vanjaar se Tokio-Spele geen aantrekkingskrag vir jou het nie.

Dit sal immers geen normale Olimpiese Spele wees nie, met bioborrels en totale afsondering van familie die lot van almal wat soontoe gaan opruk.

Serena Williams is vandeesweek vir die eerste keer in aksie sedert haar tranerige vaarwel by die Australiese Ope in Februarie. Foto: Reuters

Geen wonder Serena Williams wik en weeg of sy regtig in Julie in Japan wil wees nie. Sy sal immers daarheen moet gaan sonder haar dogter, Olympia, wat sy Maandag as haar “beste vriendin” bestempel het.

Toe Williams Maandag by die Italiaanse Ope in Rome gevra is of sy wel by die Spele sal wees, het sy dit aanvanklik beantwoord met: “Ek het nog nie regtig daaroor gedink nie – dis ’n baie goeie vraag.”

Haar ware gevoelens het egter daarna duidelik geword.

“Ek het nog nooit 24 uur sonder Olympia gehad nie, so dit is eintlik ’n antwoord op die vraag. Ons is beste vriende,” het Williams volgens TeamTalk gesê.

“Ek neem dinge deesdae een dag op ’n slag, so ek moet beslis my volgende stappe uitpluis.”

Waaroor Williams wel geen onsekerheid het nie, is of sy in Julie in Wimbledon sal wees.

Die feit dat sy daar in ’n hotel in die middel van Londen sal moet bly, eerder as in ’n private huis naby die All England Club, pla haar nie soveel nie.

“Ek dink dit sal steeds ’n goeie ervaring wees. Gelukkig het ek dit al vroeër ervaar (in vanjaar se Australiese Ope), so ek sal gereed wees daarvoor,” sê sy.

“Dit gaan beslis anders wees om in die stad te bly. Dit gaan lekker wees, maar jy gaan ook die situasie hê van, ‘O, nou moet ek ’n uur voor die tyd gaan eerder as vyf minute’, so dit gaan baie anders wees.”

Williams is vandeesweek in Rome vir die eerste keer in aksie sedert haar tranerige vaarwel in Melbourne, nadat sy in die halfeindronde van die Australiese Ope verloor het.

Daar is wyd bespiegel dat sy dit oorweeg om die gordyn op haar roemryke loopbaan te laat sak, maar sy het Maandag koue water daarop gegooi deur te sê sy oefen al weke lank “baie intens”.

Williams se mees onmiddellike ambisie is om in die Franse Ope (wat op 30 Mei begin) haar ontwykende 24ste Grand Slam-titel te verower. Die Italiaanse Ope sal haar enigste opwarmingstoernooi daarvoor wees.

“Ek het vir twee en ’n halwe weke by (haar afrigter) Patrick (Mouratoglou) se akademie geoefen en daarna baie op klei gespeel in die VSA. Ons het ’n paar intense weke van oefening gehad, baie intens,” sê sy.

“Ek voel goed. Ek is in Rome. Ek gaan hier ’n paar goeie wedstryde hê, hopelik, en dan is ons weer by nog ’n Grand Slam-toernooi, wat my altyd opgewonde maak. Ek dink ek sal gereed wees.”

Williams sal haar Italiaanse veldtog Woensdag afskop teen die Argentyn Nadia Podoroska.

Podoroska het verlede jaar die halfeindronde van die Franse Ope gehaal en is dus baie gemaklik op klei.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Tokio-Spele  |  Italiaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.