Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Omstrede Court wil soos Laver vereer word

Die Australiese sportlegende Margaret Court sê sy sal nie weer haar voet by die Australiese Ope in Melbourne sit totdat sy amptelik deur Tennis Australië uitgenooi word nie en eis ook dat sy behoorlike erkenning kry vir haar kalender-Grand Slam in 1970.

Margaret Court., voormalige Australiese tennisster. Foto: Getty Images

Court, wat die rekord hou vir die meeste Grand Slam-titels (24), was in 2017 laas by die Aussie Ope. Daardie jaar het Australiërs ’n referendum gehou oor selfdegeslaghuwelike en was die soeklig skerp op Court, vanweë haar teenkanting daarteen.

Court is al jare lank ’n pastoor in Perth en keur nie selfdegeslagverhoudings goed nie vanweë haar geloofsoortuigings.

Nou, in die aanloop tot die 50ste herdenking van haar kalender-Grand Slam ((oorwinnings in die Australiese Ope, Franse Ope, Wimbledon én die Amerikaanse Ope in dieselfde jaar)) in 1970, sê Court haar prestasie moet dieselfde vlak van erkenning kry as dié van haar landgenoot Rod Laver.

Laver is vroeër vanjaar by Melbourne Park (waar die Australiese Ope gespeel word) met groot fanfare vereer op die 50ste herdenking van sy kalender-Grand Slam in 1969.

“Ek dink Tennis Australië moet met my in gesprek tree. Hulle het my nog nooit gebel nie. Niemand het nog direk met my daaroor (die moontlike herdenking van haar prestasie) gepraat nie. Ek dink hulle probeer dit vermy,” sê Court, wie se naam op een van die skoubane by Melbourne Park pryk.

“Hulle het Rod vanjaar van Amerika af ingevlieg. Hulle moenie dink ek gaan net vanself daar opdaag nie. Dis nie reg nie. Ek behoort formeel genooi te word en hulle moet my reiskoste betaal en my vereer, soos hulle met Rod gemaak het.”

Rod Laver erken vroeër vanjaar by die Australiese Ope, waar hy vereer is vir sy kalender-Grand Slam in 1969, die toeskouers se applous. Foto: Getty Images

’n Kalender-Grand Slam is ’n uitsonderlike groot prestasie en is in vrouetennis nog net deur Court, Maureen Connolly (1953) en Steffi Graf (1988) vermag.

In manstennis het Laver dit twee keer vermag (1962 en 1969). Die enigste ander man wat dit kon regkry, was Don Budge in 1938.

Australië het in Desember 2017 selfdegeslaghuwelike wettig gemaak, nadat 61,6% van Australiërs in die referendum ten gunste daarvan gestem het.

Court se openlike teenkanting hierteen het haar veral onder voormalige spelers wat gay is ongewild gemaak.

Een van haar grootste destydse teenstanders, Billie Jean King, het byvoorbeeld ’n pleidooi gelewer dat die Margaret Court-arena (by Melbourne Park) se naam verander word en het gesê sy sou die Australiese Ope geboikot het as sy steeds ’n speler was.

’n Woordvoerder van Tennis Australië sê hulle was “in die proses om te bepaal” hoe hulle Court se destydse mylpaal kon erkenning gee.

“Soos voorheen gesê, erken Tennis Australië Margaret Court se tennisprestasies, hoewel haar standpunte nie strook met ons waardes met betrekking tot gelykheid, diversiteit en inklusiwiteit nie,” sê die beheerliggaam. 

– Reuters

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Margaret Court
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.