Dominic Thiem, derde op tennis se wêreldranglys, sê daar is geen bykomende voordeel vir spelers wat in die aanloop tot die Australiese Ope selfisoleer in Adelaide nie.

Dominic Thiem is een van ’n handjievol topspelers wat in Adelaide in kwarantyn is. Foto: Getty Images
Die meeste deelnemers aan die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar bevind hulle in Melbourne vir ’n kwarantyn van 14 dae. Slegs uitgesoekte topspelers bring dié tydperk in Adelaide deur en daar is diegene wat meen die toestande in Melbourne is ondraaglik.
Craig Tiley, grootbaas van Tennis Australië, het vroeër die week gesê die topspelers is na Adelaide gestuur om te verseker die organiseerders oorskry nie die limiet vir kwarantyn soos vereis deur owerhede in Melbourne nie.
Sommige van diegene wat in Melbourne selfisoleer het organiseerders daarvan beskuldig dat die topspelers voorgetrek word, maar volgens Thiem is daar geen groot verskil tussen die twee plekke nie.
“Dit is ’n voorreg om hier in Adelaide te wees, maar dit is nie so ’n groot voordeel nie,” sê hy.
“Ons kry dieselfde hoeveelheid tyd om te oefen as die spelers in Melbourne. Dit is eenvoudig net stiller, nie so besig waar ons is nie. Dit is eenvoudig omdat ons minder spelers hier is.
“Ons verduur soortgelyke toestande en omstandighede as die spelers in Melbourne wat nie onder die streng inperking is nie.”
Die Amerikaanse Ope-kampioene Thiem en Naomi Osaka sluit hulle aan by Rafa Nadal, Novak Djokovic, Ash Barty en Serena Williams vir ’n vertoontoernooi in Adelaide aan die einde van die maand voordat die Aussie-ope op 8 Februarie begin.
• Australië se Barty het om verskoning gevra nadat sy haar masker vergeet het toe sy by ’n supermark in Melbourne inkopies gedoen het.

Ash Barty is sonder ’n masker in die openbaar betrap. Foto: Getty Images
Die Franse Ope-kampioen in 2019 het haar in ’n verslaggewer van Sky News vasgeloop sonder haar masker, al bepaal die Covid-19-maatreëls in die staat Victoria dat jou gesig altyd in die openbaar bedek moet wees.
“Ek besef ons moet almal bydra om die gemeenskap veilig te hou en ek sal beter doen volgende keer,” sê Barty.
– Reuters