Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Op Wimbledon moes ek myself knyp

Die Engelse somer gaan nie vanjaar dieselfde wees nie.

Trouens, die tydperk van 28 Junie tot 11 Julie gaan in die tenniswêreld voel soos die grouste wintersdag waar ’n yswind deur jou waai en ’n leë gevoel binne jou jou menswees stroop. Die rede daarvoor kan in een word vasgevang word: Wimbledon.

Christo Buchner, wat hierdie ikoniese toernooi en sportgebeurtenis drie keer, in 1991, 1998 en 2000 bygewoon en vir die Afrikaanse koerante daaroor verslag gelewer het, vertel hoekom dit ’n sportervaring sonder weerga is, wat nie net in Londen nie, maar van Lydenburg tot Lahore gemis gaan word.

Steffi Graf lag uitbundig saam met haar ouers, Heidi en Peter, nadat sy die Wimbledon-kroon in 1991 verower het. Foto: Getty Images

Toe ek in 1991 ewe grootoog die eerste keer deur die hekke van die All Engeland Club in SW19 in Londen gestap het, moes ek myself letterlik knyp om te besef ek droom nie net en gaan binnekort teleurgesteld wakker word nie.

Verbeel jou, hier is ’n doodgewone outjie van Brakpan – ja, die einste Brakpan wat so onder die grappe deurloop – wat in die persbank op die hoofbaan kan inskuif om Boris Becker, Steffi Graf en die ander grootste name van wêreldtennis in lewende lywe in aksie te sien.

Tennis as sportsoort is net ondenkbaar in die laaste deel van Junie en die eerste deel van Julie sonder Wimbledon.

Jy herken die dinge wat jy elke jaar op televisie gesien het. Die enigste verskil: nou belééf jy dit.

Ek loop die hele kompleks vol en ja, maak ’n draai by die tente waar die aarbeie en room en Pimm’s ’n tradisie soos die wit tennisdrag op Wimbledon geword het. Dis net dat my rande nie lekker saamgesels met daai pond-pryse nie. En dit was al hoeveel jare gelede.

Dit wemel van tennisliefhebbers en die buitebane is ’n miernes van bedrywighede. 

Wayne Ferreira
Wayne Ferreira. Foto: Getty Images

In een van die eerste wedstryde wat ek sien veroorsaak ons eie Wayne Ferreira boonop ’n opskudding deur die ervare en enigmatiese Fransman Yannick Noah in die eerste ronde uit te skakel.

Sy volgende teenstander was nog ’n Suid-Afrikaner, Christo van Rensburg, wat hom met sy uitsonderlike grasbaan-vaardighede uitoorlê het en gewys het die ou bul is te uitgeslape vir die jong ram.

Daardie jaar het Michael Stich vir Boris Becker in die eindstryd geklop en is nog ’n Duitser, Steffi Graf, as die vrouekampioen gekroon.

Dit is asof alles in die Wimbledon en omliggende Southfields-omgewing tennis leef. Tel jy ’n koerant by ’n winkel op, is dit net Wimbledon-stories. Die moltreine is gepak met tennisliefhebbers wat nie kan wag om op Southfields-stasie af te klim nie.

Daardie lang toue wat wag vir die Wimbledon-hekke om oop te maak, skree afwagting in hoofletters uit.

Die Wimbledon-kleure van pers en groen is oral te sien.

Jy verstom jou aan die klein tentjies wat opgeslaan is en waarin tennis-junkies van oraloor die wêreld bly net om deel van die aksie te kan wees.

Pete Sampras in 2000, nadat hy vir die sewende keer as Wimbledon-kampioen gekroon is. Foto: Getty Images

Op my besoeke daar in 1998 en 2000 is Pete Sampras gekroon as die manskampioen. In 1998 het ek gesien hoe Jana Novotna die vrouetitel verower en in 2000 hoe Venus Williams haar eerste Wimbledon-kroon wen.

In daardie 2000-eindstryd het Sampras sy sewende titel (toe ’n rekord, maar intussen oortref deur Roger Federer) gewen deur tot in sterk skemerte te swoeg teen Pat Rafter.

Dit was spesiaal om waar te neem.

Die tradisie van Wimbledon is baie spesiaal. Of jy dit nou in Brakpan of Beaufort-Wes op televisie dophou, of dit eerstehands ervaar.

Tennis as sportsoort is net ondenkbaar in die laaste deel van Junie en die eerste deel van Julie sonder Wimbledon.

As sportjoernalis was ek bevoorreg en geseën om toetskrieket op plekke soos Lords, Kalkutta en die MCG in Melbourne te sien, asook die Springbokke teen die All Blacks in Wellington en Wêreldbekerkrieket in die Karibiese Eilande.

Maar vir niks anders het ek myself so geknyp om seker te maak ek is regtig daar soos toe ek op Wimbledon was nie.

Dit is werklik heilige sportgrond en van Kakamas tot Canberra gaan sportliefhebbers vanjaar ’n baie leë gevoel ervaar wanneer die tradisionele twee weke van Wimbledon aanbreek en daar word nie deur ’n stoelskeidsregter gesê: “Quiet please, let play proceed.”

Meer oor:  Wimbledon  |  Koronavirus  |  Tennis  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.