Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Opskuddings en 'knoeiery' by Franse Ope
Nadia Podoroska van Argentinië bal Dinsdag haar vuiste nadat sy in twee stelle met Elina Svitolina van Oekraïne afgereken het. Foto: AP

’n Mens sou verwag dat die woorde “wedstrydknoeiery” sou opduik by die Indiese Premierliga-krieketreeks wat in die Verenigde Arabiese Emirate beslis word.

Maar die nuus dat Franse aanklaers ’n vroue-dubbelspelwedstryd by die Franse Ope ondersoek, het Dinsdag ’n skadu gewerp op die aksie op die kleibaan.

Die aanklaer se kantoor sê die ondersoek na beweerde “bedrog in ’n georganiseerde groep” en “aktiewe en passiewe korrupsie” het betrekking op ’n dubbelspelwedstryd tussen die Roemeense paar Andreea Mitu en Patricia Maria Tig en Yana Sizikova van Rusland en die Amerikaner Madison Brengle.

Die Franse sportpublikasie L’Equipe beweer die vyfde pot van die tweede stel is veral in die soeklig. In dié pot, wat die Roemeense paar gewen het sonder om ’n punt af te staan, het Sizikova twee dubbelfoute gemaak.

Volgens L’Equipe is groot hoeveelhede geld daarop verwed dat die Roemeense paar daardie pot sou wen.

Die Roemene het die wedstryd in die eerste ronde op 30 September gewen, maar is later in die derde ronde uitgeskakel.

Organiseerders van die Franse Ope het navrae na tennis se Integriteitseenheid (TIU) verwys, wat nie kommentaar lewer oor huidige ondersoeke nie.

Organiseerders van die Franse Ope het navrae na tennis se Integriteitseenheid (TIU) verwys, wat nie kommentaar lewer oor huidige ondersoeke nie.

Intussen het die 23-jarige Argentyn Nadia Podoroska Dinsdag vir geskiedenis gesorg toe sy die eerste kwalifiseerder geword het om tot die halfeindronde van die kleibaan-Slam deur te dring.

Haar verrassende oorwinning van 6-2, 6-4 oor Elina Svitolina, die derde gekeurde, beteken daar is nou net twee gekeurde vroue in die toptien oor.

Podoroska is 131ste op die wêreldranglys en is net vir die tweede keer in haar loopbaan in die hoofloting van ’n Grand Slam-toernooi.

Die vorige kwalifiseerder in die mans- óf vroue-enkelspel wat die halfeindronde op Roland Garros kon haal, was die Belg Filip Dewulf in 1997.

Svitolina, van Oekraïne, was voor die toernooi een van die gunstelinge nadat sy in September die Strasburg-titel gewen het. Sy het egter nou vir die derde agtereenvolgende keer in dié ronde van die Franse Ope vasgeval.

Podoroska se volgende teenstander is of die jong Pool Iga Swiatek of nog ’n kwalifiseerder, Martina Trevisan van Italië, wat Dinsdagaand nog moes speel.

Danielle Collins slaan af in haar vierderonde-wedstryd teen Ons Jabeur. Die Amerikaner was onlangs nog sonder ’n afrigter, maar het nou die Spanjaard Nicolas Almagro in haar span. Foto: Reuters

Die Tunisiër Ons Jabeur se geskiedkundige veldtog het Dinsdag tot ’n einde gekom.

Die ongekeurde Amerikaner Danielle Collins het ná byna twee uur daarin geslaag om Jabeur met 6-4, 4-6, 6-4 tot oorgawe te dwing.

Collins het die eerste keer in haar loopbaan die kwarteindronde van die Franse Ope gehaal.

Collins, 57ste op die wêreldranglys, het haar spel gelig nadat die eerste nege potte van die eerste stel volgens afslaan verloop het.

Collins het deurgebreek toe Jabeur vanaf die agterbaan ’n ongedwonge fout begaan het.

Die 26-jarige Amerikaner het daarna vinnig ’n voorsprong van 3-0 opgebou en dit het gelyk asof Jabeur se doppie geklink is.

Jabeur het egter haar fokus herwin en die volgende vyf potte gewen om die wedstryd na ’n beslissende stel te stuur.

Die 26-jarige Tunisiër het Saterdag met haar oorwinning oor Aryna Sabalenka geskiedenis gemaak en die eerste Arabiese vrou geword om die laaste 16 te haal.

Die 26-jarige Tunisiër het Saterdag met haar oorwinning oor Aryna Sabalenka geskiedenis gemaak en die eerste Arabiese vrou geword om die laaste 16 te haal.

Collins se kwarteindstryd is Woensdag teen Sofia Kenin, die vierde gekeurde en die Australiese Ope-kampioen.

Dié Amerikaner het Maandag ná ’n wankelrige begin haar wedstryd in die vierde ronde teen Fiona Ferro van Frankryk met 2-6, 6-2, 6-1 gewen.

Petra Kvitova, die sewende gekeurde, pak die ongekeurde Duitser Laura Siegemund.

Die vroue-eindstryd word Saterdag beslis. – Sportredaksie, Reuters, AFP

Meer oor:  Ons Jabeur  |  Danielle Collins  |  Elina Svitolina  |  Nadia Podoroska  |  Amerika  |  Parys  |  Frankryk  |  Knoeiery  |  Ope  |  Grand Slam  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.