Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
‘Organiseerders van Aussie-ope het my versaak’

Paula Badosa voel die organiseerders van die Australiese Ope het haar versaak.

Paula Badosa beskryf haar kwarantyn in Melbourne as die ergste ervaring van haar loopbaan. Foto: Getty Images

Dié Spaanse tennisspeler, wat weens haar positiewe Covid-19-toets aan ’n uiters streng inperking onderwerp is, beskryf haar ervaring onder kwarantyn in Melbourne as die ergste ervaring van haar loopbaan.

Badosa, 67ste op die wêreldranglys, was die eerste speler wat met haar aankoms in Australië positief vir Covid-19 getoets is. Die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar begin op 8 Februarie, maar Badosa mag haar hotelkamer eers op 31 Januarie verlaat.

Indien daar gevind word dat sy met die nuwe variant van die virus geïnfekteer is, mag sy eers op 5 Februarie na die oefenbaan terugkeer. Sy glo dit los haar met te min tyd om betyds haar fiksheid te herwin vir die toernooi wat weens die pandemie met drie weke uitgestel is.

“Ek voel versaak, want ek het nog nie die oefentoerusting ontvang wat ek vyf dae gelede aangevra het nie. Die organiseerders voorsien my van geen inligting nie,” sê sy.

Badosa sê sy ly aan angs en kloustrofobie. Haar oefeninge word beperk tot opsitte in haar hotelkamer en die gebruik van waterbottels as gewigte.

Volgens die 23-jarige speler is haar kamer, wat sy met haar afrigter, Javier Martí, deel, nie gepas vir ’n elite-sportvrou nie.

“Dit is verreweg die ergste ondervinding van my loopbaan,” sê Badosa.

“Die toestande hier is beklaenswaardig, ek het dit nie verwag nie. Die eerste ding wat mense aanbeveel as jy die virus het, is om die vensters oop te maak sodat lug kan instroom, maar ek het nie vensters in my kamer nie en dit is skaars 15 m² groot.”

Sy sê sy is baie van haar fiksheid kwyt, veral haar krag.

“As ek my kamer op 31 Januarie mag verlaat, los dit my met ’n week oor om voor te berei. As dit 5 Februarie is, sal dit onmoontlik wees om betyds te herstel (vir die toernooi).”

Die Spanjaard het in Melbourne aangekom nadat sy vroeër vandeesmaand in Abu Dhabi meegeding het en was op haar sewende dag in kwarantyn toe sy positief toets.

Altesame 72 spelers is vir twee weke tot hul hotelkamers beperk nadat passasiers op drie huurvlugte na Australië positief getoets is.

Yulia Putintseva van Kazakstan, 28ste op die ranglys, het verlede week gekla dat sy weens muise in haar kamer sukkel om te slaap. – Reuters

Meer oor:  Australiese Ope  |  Koronavirus  |  Tennis  |  Paula Badosa  |  Covid-19  |  Melbourne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.