Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Osaka, Djokovic blaas aftog by Indian Wells

Elke tennisspeler droom van die dag dat hulle die wêreld se nr. 1-speler word. Maar baie van hulle vind eers op die kruin van die berg uit daar wag ’n groot, fel soeklig wat hulle nie kan ontsnap nie.

Die 21-jarige Naomi Osaka het daardie soeklig as een van die gróót uitdagings in haar nuwe status as nr. 1 identifiseer nadat sy Dinsdag in die vierde ronde van die Indian Wells-toernooi in Kalifornië (waarin sy die verdedigende kampioen was) deur die Switser Belinda Bencic uitgeboender is.

Nie die draaiboek wat sy wou hê nie . . . Naomi Osaka is ’n prentjie van teleurstelling tydens haar wedstryd teen die Switser Belinda Bencic. Foto: AP

Bencic, wat Sondag haar 22ste verjaarsdag gevier het en 22 plekke laer op die wêreldranglys as Osaka is, het uit die staanspoor die kitaar geslaan en vyf keer op die Japanner se afslaan deurgebreek.

Osaka het erken sy het nie goed gespeel nie, maar ook gesê sy sal geen slaap oor dié uitslag verloor nie.

“Ek dink met ’n telling soos daardie sou ek gewoonlik baie depressief en hartseer voel. Maar ek voel heeltemal oukei, want ek dink onder die omstandighede het ek my bes gedoen. Ek is nie spyt oor enigiets nie,” het sy volgens Reuters gesê.

“Een van die belangrikste dinge wat ek wil hê is om meer volwasse te wees. Ek werk nog daaraan, op én van die baan af. Ek het laasjaar ’n paar keer my humeur verloor en in woedebuie verval, maar hierdie jaar probeer ek dit verander, en ek dink dit gaan goed.”

Toe Osaka twaalf maande gelede die Indian Wells-kampioenskap gewen het, was sy buite die top-40 in die wêreld en vir vele tennisliefhebbers ’n onbekende naam. Maar vandeesweek was sy terug as die planeet se voorste vrouespeler, ’n tweemalige Grand Slam-kampioen en ’n speler wie se oefensessies deur honderde uitbundige ondersteuners bygewoon is.

Haar dae van onbekend wees is verby en sy sukkel om daaraan gewoond te raak, het sy gesê.

“Ek voel daar is geen anonimiteit nie. Dit was iets wat ek tot my voordeel gebruik het toe ek 18, 19 was. Maar nou dink ek daar is te veel video’s daarbuite en te veel mense wat my wedstryde kyk.”

Ondanks haar nederlaag sal Osaka volgende week steeds afskop as die wêreld se voorste speler, nadat die nr. 2, Simona Halep, se toernooi ook Dinsdag tot ’n sidderende einde gekom het.

Die Tsjeggiese tiener Marketa Vondrousova het ’n Halep-afdag uitgebuit om met 6-2, 3-6, 6-2 te seëvier.

Novak Djokovic haal sy frustrasies op sy raket uit tydens sy nederlaag in Indian Wells teen die Duitse veteraan Philipp Kohlschreiber. Foto: Getty Images

Halep het in ’n stadium mediese behandeling vir blase op haar voete ontvang. Aan die ander kant van die net het Vondrousova dit uitgebuit deur haar die baan vol te jaag. Halep kon net ses wenhoue slaan, teenoor 36 ongedwonge foute.

Die grootste opskudding in Indian Wells is egter Dinsdag gelewer in die manskompetisie, met die vertrek van Novak Djokovic.

Djokovic, die wêreld se voorste manspeler, het die knie in skoon stelle gebuig voor die veteraan Philipp Kohlschreiber.

Die 35-jarige Duitser was met 6-4, 6-4 baas in dié derderonde-stryd. Dit was die eerste keer in sy lang loopbaan dat hy met ’n nr. 1-speler kon afreken.

Die Indian Wells-toernooi was Djokovic se eerste sedert hy in Januarie die Australiese Ope gewen het en hy het gehoop om die titel vir die sesde keer te wen.

Maar teen die Duitser was hy ongewoon platpoot, met 27 ongedwonge foute, ’n enkele suksesvolle breekpunt en ’n voos geslaande raket alles faktore in sy ondergang.

“Ek geniet dit nie om te verloor nie, veral in ’n toernooi soos hierdie waar ek in die verlede baie sukses gehad het,” het hy ná sy nederlaag aan die media gesê. “Maar dit gebeur. Dis een van daardie dae.”

Meer oor:  Indian Wells  |  Tennis  |  Wta  |  Atp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.