SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Tennis
Osaka grootste slagoffer van Serena-tirade

Die voormalige Springbok-tennisspeler Annette du Plooy, wat as Annette van Zyl haar nasionale kleure verwerf het, sê sy het gemengde gevoelens oor die Serena Williams-sage in die eindstryd van die Amerikaanse Ope-tennistoernooi die afgelope Saterdag in New York.

Die tirade wat die hele tenniswêreld laat regop sit het. Serena Williams sê die skeidsregter Carlos Ramos sleg tydens die eindstryd van die Amerikaanse Ope. Foto: USA TODAY Sports

“Ek is teleurgesteld in hoe sy die hele situasie hanteer het. Ek het veel meer van ’n ikoon soos sy verwag,” sê Du Plooy, wat steeds ’n afrigter in Pretoria is.

“Dit is vir my regtig jammer dat wat veronderstel was om ’n wonderlike dag vir Naomi Osaka moes wees, die grootste van haar tennisloopbaan, só moes eindig en oorskadu moes word deur die omstredenheid.”

Osaka het haar eerste Grand Slam-eindstryd met 6-2, 6-4 gewen, maar die wedstryd is oorheers deur Williams se vurige woordewisselings met die skeidsregter, Carlos Ramos.

Die skeidsregter het Williams aanvanklik gewaarsku vir ’n afrigtingsoortreding en met ’n punt gestraf nadat sy haar raket stukkend geslaan het.

Die Amerikaner het daarna heftig teenoor die skeidsregter uitgevaar en is uiteindelik met ’n pot gestraf.

Williams het die oortredings heftig tydens die wedstryd bevraagteken.

Ek is teleurgesteld in hoe sy die hele situasie hanteer het. Ek het veel meer van ’n ikoon soos sy verwag.

Sy het daarop aangedring dat Ramos om verskoning vra dat hy haar vir ’n afrigtingsoortreding gewaarsku het en die skeidsregter later ’n “dief” genoem omdat hy haar met ’n punt gestraf het.

Sy het geweier om ná die wedstryd sy hand te skud en hom van seksisme beskuldig.

“Waar ek wel saam met Serena stem, is dat vroue nie op dieselfde wyse as die mans behandel word nie. Van die mans gaan veel erger tekere. (Alexander) Zverev het al veel meer rakette gebreek en het nog altyd net ’n waarskuwing gekry. Daar is nie punte en potte van hom afgetrek nie.

“Ek dink dus die skeidsregter het in daardie opsig té ver gegaan en dat Serena erger gestraf is as wat die geval moes wees. Die gevoel bestaan al lankal dat vroue nie op dieselfde wyse behandel word as die mans nie.

“Wat wel waar is, is dat Serena gewis afrigting gekry het tydens die wedstryd. Dit is selfs deur haar afrigter erken en daar kan nie teen geskry word nie.

“Dit is eintlik iets waaroor ek as afrigter eintlik net wil lag (afrigting vanuit die paviljoen), want dit is nie iets wat sommer werk deur vir jou speler te wil hulp gee tydens die wedstryd nie.

Serena Williams probeer Naomi Osaka troos nadat sy tydens die trofee-oorhandiging begin huil het vanweë die skare se uitjouery. Foto: USA TODAY Sports

“Sy is ’n rolmodel vir soveel tennisspelers wêreldwyd dat sy moes besef het om nie aan te gaan soos sy aangegaan het op die baan nie. Dit was vir my baie teleurstellend en ek het beslis meer van iemand met haar statuur verwag,” sê Du Plooy.

“Die een vir wie ek die jammerste voel is Osaka. Haar grootste dag nóg is geheel en al oorskadu deur die Serena-omstredenheid en dit is jammer vir iemand wat haar eerste Grand Slam-titel wen en vir wie dit ’n geskiedkundige dag is,” sê sy.

* Du Plooy het in 1966 die gemengde dubbelspeltitel saam met Frew McMillan by die Franse Ope gewen. In die enkelspel het sy die halfeindronde van die Australiese én Franse Ope gehaal.

Meer oor:  Tennis  |  Serena Williams  |  Wta  |  Naomi Osaka  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.