Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Osaka klop Serena in eindstryd

Naomi Osaka van Japan het Serena Williams met 6-2, 6-4 in een van die mees omstrede en dramatiese eindstryde nóg van die vroue-enkelspel op die Amerikaanse Ope verslaan.

Naomi Osaka van Japan hou haar trofee omhoog nadat sy Serena Williams in die eindstryd van die Amerikaanse Ope geklop het. Foto: Getty Images

Osaka het sodoende Japan se eerste Grand Slam-enkelspelkampioen geword, terwyl Williams gepoog het om Margaret Court se rekord van 24 Major-titels te ewenaar.

Tog was die oomblik toe Osaka haar trofee en wennerstjek van $3.8 miljoen ontvang het, waarskynlik glad nie soos sy dit verwag het nie. Die Amerikaanse skare het toe hul frustrasie met die skeidsregter Carlos Ramos te kenne gegee deur te boe terwyl Osaka op die podium gestaan het. Ramos het aan die kant gestaan.

Williams nadat sy haar raket stukkend geslaan het. Foto: TPX IMAGES

Die toeskouers was ontevrede nadat Ramos in die tweede pot van die tweede stel vir Williams ’n waarskuwing gegee het nadat hy beslis het sy het die gedragskode oortree. Ramos het opgemerk hoe haar afrigter, Patrick Mouratoglou, vir haar boodskappe met handgebare uit die spelershokkie stuur. Die skeidsregter het haar 'n waarskuwing gegee. 

Dié waarskuwing het Williams nie aangestaan nie en sy het haar misnoeë met die skeidsregter te kenne gegee. Sy het Ramos daarvan beskuldig dat hy ’n “leuenaar” is en “ ’n dief omdat jy ’n punt van my steel”.

Met die tweede stel op 4-3 in Osaka se guns, het Ramos vir Williams daarvoor met ’n pot gestraf om die telling tot 5-3 te rek nadat sy vroeër ook haar raket stukkend geslaan het en met 'n punt daarvoor gestraf is.

Mouratoglou het later erken dat hy haar afgerig het tydens die wedstryd, maar Williams het volgehou sy het geen raad ontvang nie en het eerder gesê sy was die slagoffer van seksisme.

Serena Williams kry die skeidsregter Carlos Ramos voor stok. Foto: TPX IMAGES

“Hy (Ramos) voer aan ek het gekul en ek het nie gekul nie. Ek het ander mans al gesien wat skeidsregters baie ander dinge noem,” het Williams gesê.

“Ek is hier om vir vroue se regte en gelykheid te veg. Vir my om ‘dief’ te sê en vir hom om ’n pot by my te vat, het my laat voel of dit ’n seksistiese aanmerking was.”

Serena Williams wys haar frustrasie tydens die eindstryd. Foto: Getty Images

Tussen al die chaos deur het Osaka komkommerkoel gebly. In die eerste stel het sy vroeg (op 2-1) reeds deurgebreek ná ’n dubbelfout deur Williams, en nooit haar voorsprong laat gly nie.

“Ek weet almal het vir Serena geskree en ek is jammer dat dit só moes eindig,” het Osaka na die tyd gesê.

“Dit was altyd my droom om teen Serena in die eindstryd van die Amerikaanse Ope te speel. Ek is baie dankbaar dat ek teen jou kon speel.”

Die WTA, die wêreldbeheerliggaam vir vrouetennis, het ná die eindstryd gesê hy sal die voorvalle op die baan ondersoek. Williams kan deur tugstappe in die gesig gestaar word. – Reuters

Meer oor:  Serena Williams  |  Naomi Osaka  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.