Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Oud-kampioen Ostapenko gee Pliskova pak

Die enigste keer wat Jelena Ostapenko verby die eerste ronde van die Franse Ope kon kom, het sy die titel gewen.

Drie jaar ná daardie groot sukses bevind die Letlander haar in die derde ronde van die toernooi – en het sy ’n kop laat rol, wat almal by die toernooi twee keer sou laat kyk.

Jelena Ostapenko is vir net die tweede keer in die derde ronde van die Franse Ope. Die vorige keer wat sy so ver gekom het, het sy voortgegaan om die titel te wen. Foto: Reuters

Die 23-jarige Ostapenko het die tweede gekeurde

Donderdagoggend met mag en mening by Roland Garros verjaag, toe sy haar in hul tweederonde-stryd met 6-4, 6-2 verslaan het.

Pliskova het ook verlede maand in die tweede ronde van die Amerikaanse Ope verloor, maar haarself hoop gegee vir ’n goeie toernooi in Parys deur die eindstryd van die Italiaanse Ope te haal.

’n Goeie Franse Ope sou egter veel meer fokus en akkuraatheid verg as wat sy in haar eerste twee rondes getoon het.

Dinsdag, teen die ongeroemde Egiptenaar Mayar Sherif, was sy lank op die agtervoet voordat sy dinge kon omkeer. Donderdag het sy weer stadig begin, maar dié keer te staan gekom teen ’n jong speler wat geweier het om die deur op selfs net ’n skrefie vir haar oop te maak.

Ostapenko het Pliskova gepeper met uitstekende afslane en altesaam 27 wenhoue van oral op die baan gemoker. Die Tsjeg kon nie daarmee saampraat nie, soos haar 25 ongedwonge foute, teenoor ’n skamele nege wenhoue, onderstreep.

Die tweede gekeurde Karolina Pliskova moes vir die tweede agtereenvolgende Grand Slam-toernooi die aftog ná twee rondes blaas. Foto: AP

Ostapenko speel vir net die vyfde keer by Roland Garros en hoop dit is twee weke waarin sy haar loopbaan terug op koers kan kry.

Sedert sy Simona Halep in 2017 se Franse Ope-eindstryd geklop het, kon sy net een keer die tweede week van ’n Grand Slam-toernooi haal, by 2018 se Wimbledon.

Die tweede week is steeds ver, met die wenner van die wedstryd tussen die Amerikaner Sloane Stephens en Spanje se Paula Badosa, wat in die derde ronde op haar wag. Maar Ostapenko het teen Pliskova ’n vertoning gelewer wat haar die reg gee om groot te droom.

Ek het wonderlike herinneringe hier en ek dink die bietjie atmosfeer wat hier was, het my gehelp om beter te speel.

“Ek het voor die wedstryd geweet ek sou moes goed afslaan en aggressief wees, nie baie punte mis nie. Ek bedoel, sy is die tweede gekeurde, sy’s ’n fantastiese speler. En aan die begin was dit taai, sy het regtig goed afgeslaan,” het Ostapenko in haar TV-onderhoud gesê.

“Ek het net probeer fokus en met aggressie speel, want ek moes my beste moontlike tennis lewer.”

Ostapenko het gesê dit was heerlik om terug te wees op die Philippe Chatrier-baan, waar sy in 2017 die Suzanne Lenglen-trofee gelig het, al was daar nie veel toeskouers nie.

“Daar kan darem nou al ’n paar ondersteuners kom kyk en al was dit nie dieselfde as in daardie eindstryd nie, is ek steeds dankbaar om op hierdie baan te kan speel. Ek het wonderlike herinneringe hier en ek dink die bietjie atmosfeer wat hier was, het my gehelp om beter te speel.”

• Die vierde gekeurde Sofia Kenin het meer klippe op haar pad na die derde ronde gehad, met die Roemeen Ana Bogdan wat haar Donderdag vir ’n uur en 51 minute besig gehou het.

Kenin, die heersende Australiese kampioen, het die foute omtrent in die eerste 40 minute van die wedstryd ingeryg, maar in die tweede en derde stelle beter beheer gehad en Bogdan uiteindelik met 3-6, 6-3, 6-2 geklop.

UITSLAE

Meer oor:  Jelena Ostapenko  |  Tennis  |  Karolina Pliskova  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.