Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Oudste en jongste in Oz slaags

Die jongste vrou teen die oudste vrou – dís waarna tennisliefhebbers volgende week in die eerste ronde van die Australiese Ope-toernooi kan uitsien.

Venus Williams en Coco Gauff in 2019 nadat Gauff vir ’n reuse-opskudding op Wimbledon gesorg het. Hul paaie gaan nou weer in Melbourne kruis. Foto: Getty Images

Coco Gauff (15) is Donderdag geloot om teen die veteraan Venus Williams (39) in Melbourne te staan te kom.

Wat dié ontmoeting nóg lekkerder maak, is dat Gauff verlede jaar, toe sy nog 14 jaar oud was, in die eerste ronde van Wimbledon met die einste Williams afgereken het. Die feit dat sy vir Wimbledon se hoofloting kon kwalifiseer het haar koerantopskrifte laat haal, maar haar oorwinning oor Williams het haar kitsroem laat verwerf.

Gauff het uiteindelik so ver as die vierde ronde in Wimbledon gevorder.

Die wenner van dié kragmeting kan volgens tennis.com in die derde ronde teen die verdedigende Australiese Ope-kampioen, Naomi Osaka, te staan kom. En die wenner van laasgenoemde stryd, kan in die vierde ronde met Williams se jonger suster en 23-malige Grand Slam-kampioen, Serena, swaarde kruis.

Serena se teenstander in die eerste ronde is Anastasia Potapova, ’n Rus wat 90ste op die wêreldranglys is.

Soos wat vooraf verwag is, is twee van die groot gunstelinge onder die mans, Novak Djokovic (tweede gekeur) en Roger Federer (derde gekeur), in dieselfde helfte geloot. Dít beteken hulle kan potensieel in die halfeindronde teen mekaar speel.

Vir die topgekeurde, Rafa Nadal, kan daar in die vierde ronde ’n moeilike stryd teen Australië se Nick Kyrgios wees. Laasgenoemde was in verlede week se toernooi om die ATP-beker goed op dreef.

Die gevaarlike Daniil Medvedev (Rusland) en Dominic Thiem (Oostenryk) is ook in sy helfte van die loting.

Nadal begin sy veldtog teen die onbesonge Hugo Dellien van Bolivia (72ste op die wêreldranglys).

Djokovic het ’n veel moeiliker openingswedstryd teen die Duitser Jan-Lennard Struff. Federer se eersteronde-teenstander is Steve Johnson van Amerika. – Sportredaksie

Meer oor:  Australiese Ope  |  Coco Gauff  |  Venus Williams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.