Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Oumas nog kookwater op die tennisbaan

Twee Bloemfonteinse oumas is dit eens dat hulle die raket sal swaai totdat hulle nie meer kan nie.

Die Bloemfonteiners Coreen Güldenpfennig (70) en Margaret Bornman (77) by die Oudstudente-tennisbane in Bloemfontein op Tennis Suid-Afrika se jaarlikse nasionale senior kampioenskap wat tot 11 Maart op tennisbane in die stad gehou word. Foto: Mlungisi Louw

Vir Margaret Bornman (77) en Coreen Güldenpfennig (70), wat sedert kindsbeen op die tennisbaan boer, is dit nie ’n probleem om ’n bal te jaag of te moker nie.

Dié vriendinne is onder die sowat 250 tennisspelers wat sedert Saterdag aan Tennis Suid-Afrika se jaarlikse nasionale senior kampioenskap in Bloemfontein deelneem. Dit is die sesde agtereenvolgende jaar dat die toernooi hier aangebied word.

Die toernooi is vir spelers 30 jaar tot ouer as 75 jaar en word op verskeie tennisbane in die stad aangebied. Dit eindig Woensdag.

Dit is egter nie net die tantes wat nog flink op die baan is nie.

“Kan jy glo dis mans bo 70 jaar wat só lyk en hardloop – hulle hardloop soos mans van 30 jaar!” sê Güldenpfennig, verwysend na spelers op die baan langs hulle.

Sy en Bornman, albei voormalige tennisafrigters in die Rosestad, slaan die bal moeiteloos oor en weer op die Oudstudente-tennisbane voordat hulle later sou deelneem.

Margaret Bornman (77) en Coreen Güldenpfennig (70) is dit eens dat hulle die raket sal swaai totdat hulle nie meer kan nie. Foto: Mlungisi Louw

In die kampioenskap neem Güldenpfennig in die ouderdomsgroep bo 70 jaar deel en Bornman bo 75.

Veral Bornman het al hoë hoogtes in dié sport bereik en het onder meer Wimbledon se gras onder haar voete gevoel. Sy het haar land agt keer verteenwoordig, sê sy.

Dit is ook die sosiale aspek van die sport wat sy geniet.

“Ek kan na enige dorp in die land gaan en daar sal altyd iemand wees wat ek vanweë tennis ken.”

Tennisbloed vloei ook deur hul families se are.

Charl (48), een van Bornman se drie seuns, is ook ’n kranige tennisspeler en is destyds met ’n tennisbeurs na Amerika, waar hy nou woon.

Coreen Güldenpfennig (70) en Margaret Bornman (77) is albei voormalige tennisafrigters van die Rosestad. Foto: Mlungisi Louw
Coreen Güldenpfennig (70) en Margaret Bornman (77) boer sedert kindsbeen op die tennisbaan. Foto: Mlungisi Louw
Margaret Bornman (77). Foto: Mlungisi Louw
Coreen Güldenpfennig (70). Foto: Mlungisi Louw

Dié ouma van vyf sê van haar kleinkinders beoefen ook die sport.

“Ek was nou die dag by die dokter, toe sê sy vir my ek moet asseblief net nie ophou speel nie.

“Hoekom sal ek ophou?”

Güldenpfennig, ma van vyf en ouma van nege, sê haar spruite het aanvanklik tennis gespeel, maar daarmee opgehou. Sy het wel ’n kleindogter wat tennis speel.

Sy het ook verskeie kere internasionaal meegeding, maar geld speel ’n rol, sê sy.

“Ons moet ons eie koste dek – so ons word gekies om te speel, maar ons het nie elke jaar die geld om te gaan nie.”

Güldenpfennig speel tennis vir die oefening en pret, asook die vriendskappe wat jy smee.

Die twee verskil egter wanneer dit by hul tennishelde kom – Güldenpfennig bewonder die Spanjaard Rafael Nadal, terwyl Bornman nie ooghare vir hom het nie.

Albei het wel baie tyd vir die Switser Roger Federer en die Oostenryker Dominic Thiem.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.