Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Pad vol klippe lei tot Sithole se val

Die Suid-Afrikaanse rolstoel-tennisspeler Lucas Sithole, wat vir twee jaar uit tennis geskors is, voer aan dat sekere “uitdagings” hom verhoed het om getoets te word vir verbode middels.

Dit volg nadat die Internasionale Tennisfederasie (ITF) in Januarie aangekondig het dat Si­thole (33) vir twee jaar geskors is omdat hy nie beskikbaar was om getoets te word vir verbode middels nie.

Lucas Sithole tydens ’n toernooi in Julie 2017 in Engeland. Foto: Getty Images

Die ITF voer aan dat Sithole drie keer, op 12 Februarie, 22 Mei en 25 Junie 2019, nie beskikbaar was vir toetse nie.

Sithole, ’n tweemalige Grand Slam-kampioen, erken in ’n verklaring op Tennis Suid-Afrika se webtuiste dat sy oordeel hom in die steek gelaat het, maar wys op die struikelblokke wat hom verhinder het om getoets te word.

“Ek neem volle verantwoordelikheid vir die foute wat tot my skorsing gelei het. Ek respekteer die besluit van die ITF en hou aan om ’n ondersteuner van tennis se program teen die gebruik van verbode middels te wees.

“Ek kan ook bevestig dat ek regdeur my loopbaan nooit positief getoets het vir enige onwettige middels nie.

“Die eerste helfte van 2019 was moeilik vir my – ek het ’n paar familielede aan die dood afgestaan en moes onbeplande reise na Newcastle (in KwaZulu-Natal) onderneem – iets wat bygedra het tot my onbeskikbaarheid (vir toetse).

“In hierdie tydperk het Rolstoel Tennis Suid-Afrika (WTSA) toegemaak en die huis waarin die atlete gewoon het – wat ons permanente blyplek was – is verkoop. Dit het uitdagings vir my geskep,” sê Sithole.

Ek neem volle verantwoordelikheid vir my foute.

An­thony Moruthane, TSA se woordvoerder, het aan Rapport gesê dié liggaam en WTSA het in Julie 2019 saamgesmelt, nadat dit tevore as twee afsonderlike entiteite bestaan het.

“Rolstoel Tennis Suid-Afrika het ’n huis in Westdene (Johannesburg) gehad waarin die spelers gewoon het, wat met die samesmelting toe verkoop is.

“Spelers soos Lucas moes daarna hul eie blyplek vind.

“Diegene wat in die huis gewoon het, is reeds ses maande tevore ingelig dat hulle ander blyplek sal moet vind,” sê Mo­ruthane.

Hy het ook bevestig dat die onus op spelers was om self alternatiewe behuising te vind.

Rolstoelspelers wat hoëpre­stasiespelers is, het egter intussen ’n tuiste by die Universiteit van Pretoria (UP) gevind, aldus Moruthane. Hy het ook bevestig dat Sithole by die UP se hoëprestasiesentrum woonagtig was.

Sithole het in 2013 die Amerikaanse Ope gewen, en in 2016 het hy die dubbelspeltitel by die Australiese Ope gewen, toe hy en die Amerikaner David Wagner kragte saamgesnoer het.

As ’n 12-jarige seun het Sithole se lewe in 1998 handomkeer verander toe hy albei sy bene en ’n deel van sy regterarm tydens ’n treinongeluk in Newcastle verloor het.

Hy sal weer in September 2021 kan terugkeer na die tennisbaan – en luidens die verklaring is dit presies wat hy gaan doen.

“Ek beplan om aan te hou met oefen – om fisiek en sielkundig fiks te bly om my voor te berei vir my terugkeer in 2021,” sê Sithole.

Meer oor:  Lucas Sithole  |  Toets  |  Verbode Middels  |  Geskors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.