Die Internasionale Tennisfederasie het Pakistan se appèl teen ’n besluit om sy Davisbeker-kragmeting met Indië na ’n neutrale land te skuif, van die hand gewys.

Leander Paes en sy Indiese spanmaats sal Pakistan in ’n neutrale land, Kazakstan, die stryd aansê in ’n Davisbeker-kragmeting. Foto: Getty Images
Pakistan, wat veronderstel was om sy buurland tuis te pak, sal nou op 29 en 30 November in Kazakstan teen Indië te staan kom.
Dié kragmeting was oorspronklik vir 14 en 15 September in Islamabad geskeduleer, maar is uitgestel weens veiligheidsvrese te midde van toenemende politieke spanning tussen die lande.
Die bestrede Kasjmir-gebied is sentraal tot die spanning tussen dié bittere bure, wat albei oor kernwapens beskik.
’n Indiese tennisspan het in 1964 laas aan Pakistan besoek afgelê, terwyl Pakistan in 2006 laas in Indië Davisbeker-tennis gespeel het.
Pakistan en Indië se krieketspanne het vanweë dié spanning in 2007 laas toetskrieket teen mekaar gespeel.
– Reuters