Roger Federer moet aan meer tennistoernooie deelneem of dit oorweeg om uit te tree, sê die voormalige Wimbledon-kampioen Pat Cash.

Roger Federer se loopbaan staan einde se kant toe, glo Pat Cash. Foto: Getty Images
Die 37-jarige Switser het Maandag op verrassende wyse teen John Millman, 55ste op die wêreldranglys, in die vierde ronde van die Amerikaanse Ope vasgeval. Dié nederlaag het vrae laat ontstaan oor die wenner van 20 Grand Slam-titels se toekoms in die sportsoort.
Federer beperk sy tyd op die baan en verkies om sy skedule rondom spesifieke toernooie te beplan.
BBCSport berig Cash glo dit is ’n fout.
“Dit haal jou uiteindelik in en jy ly onverklaarbare nederlae en lewer swak vertonings,” sê die Aussie.
“Dit sal eers so dan en wan gebeur, dan meer en meer. Jy besluit dan of jy ’n bietjie langer gaan speel of uittree.
“Hy mag dalk hierdie keer die besluit neem, dalk nie. Ek sê nie sy uittrede is op hande nie, maar hy mag dalk dink genoeg is genoeg.
“Wanneer jy naby die einde van jou loopbaan kom, kan hierdie nederlae net gebeur en jy krap kop en wonder wat fout gegaan het.”

Pat Cash meen Federer moet aan meer toernooie deelneem of uittree. Foto: Getty Images
Die tweede gekeurde Federer het gemik na sy sesde Amerikaanse Ope-titel nadat hy die laaste keer in 2008 by Flushing Meadows geseëvier het.
Hy was baas in die eerste stel, maar het daarna ’n wisselvallige vertoning gelewer om in vier stelle teen die Aussie Millman die knie te buig.
Dit was Federer eerste nederlaag teen ’n speler buite die top-50 in 41 kragmetings in New York.
Hy het die tweede jaar agtereenvolgens die kleibaanseisoen uitgesit en teruggekeer om in twee grasbaantoernooie mee te ding voordat hy in die kwarteindronde by Wimbledon deur Kevin Anderson uitgeskakel is.
Dit was die vroegste wat hy by die All England Club die trekpas gegee is sedert sy nederlaag in die tweede ronde teen Sergiy Stakhovsky in 2013.
Federer het weer ’n blaaskans gevat voordat hy in die aanloop tot die VSA-Ope een toernooi in Cincinnati gespeel het waar hy deur Novak Djokovic in die eindstryd geklop is.
Federer sê hy verstaan hoekom hy gereeld uitgevra word oor uittrede nadat hy “die afgelope nege jaar of so” deur soortgelyke vrae gepeper is.
Hy het verlede week dit nog duidelik gemaak dat hy nie gereed is om tou op te gooi nie.
Vrae word lank reeds oor sy lewensduur in die sport gevra, veral toe byna vyf jaar verloop het tussen sy Grand Slam-seges ná sy Wimbledon-triomf in 2012.
Maar tog, nadat hy die tweede helfte van 2016 weens ’n kniebesering gerus het, het hy teruggekeer om nog drie major-titels te verower en in Februarie die oudste speler tot nog toe geword om die boonste plek op die wêreldranglys te beklee.
– Sportredaksie